Munisipale dienste in Schweizer-Reneke en omgewing word reeds sedert Maandag verlam deur protesaksies deur opponerende ANC-faksies by die Mamusa-plaaslike munisipaliteit se kantore op die dorp.
Die verskillende faksies is blykbaar onderskeidelik ondersteuners van ‘n ANC-kandidaat, Gotsilekgosi Batsi vir die speaker- posisie in die raad, en aan die ander kant ondersteuners van die huidige speaker, Lesego Motlapele, wat op 22 Mei in die posisie verkies is.
Munisipale amptenare daag weens intimidasie deur die betogende faksies nie op vir werk nie. Die munisipale kantore is tans verlate met protesgangers wat die terrein betree het.
Inwoners vrees dat die protes weer in geweld kan ontaard en dat die munisipaliteit weer afgebrand kan word soos in Junie 2017.
Die munisipale bestuurder, Tshepo Bloom, is ook sedert Maandag nie op kantoor nie weens beweerde intimidasie deur ‘n betogende ANC-faksie.
Die VF Plus het vandag die hulp van die openbare polisiëringseenheid (POPS) ingeroep nadat die plaaslike polisie aangedui het dat hulle nie voldoende mannekrag het om die situasie te hanteer nie.
Die VF Plus het ook die premier, Bushy Maape, gekontak en versoek dat die owerhede dringend ingryp om ‘n herhaling van die chaotiese toestand in 2017 te voorkom.
Die plaaslike ekonomieë van Amalia en Schweizer-Reneke word lank reeds onder druk geplaas weens die algemene swak dienslewering van hierdie berugte munisipaliteit.
Die ANC-regering moet ten volle verantwoordelikheid aanvaar vir die optrede van sy ondersteuners wat telkens dienste ontwrig en verwoesting saai in munisipaliteite regoor die provinsie.
Die gemeenskap van Mamusa verdien weer ‘n stabiele munisipaliteit wat ekonomiese groei in die hand werk en werklik die belange van sy inwoners vooropstel.
Die ANC-regering is kennelik nie in staat tot goeie en verantwoordbare regering nie. Die inwoners van Mamusa verdien beter as die ANC.