fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC en PA se vasklou aan mag in Cederberg-munisipaliteit voorspel niks goed vir goeie regering en demokrasie

Die ANC en PA se ondemokratiese vasklou aan mag in die Cederberg-plaaslike munisipaliteit (Citrusdal, Clanwilliam, Elandsbaai, Graafwater, Lambertsbaai, Leipoldtville, Wupperthal), voorspel niks goed vir goeie regering en dienslewering nie.

Ten spyte daarvan dat inwoners van wyk 5 in Lambertsbaai op 12 Oktober duidelik aangedui het dat hulle die koalisievennote se kandidaat, dr. John Hayes, ondersteun en hy klinkklaar die tussenverkiesing gewen het, weier die ANC/PA-koalisie om die uitslag te aanvaar.

Dr. Hayes se verkiesing het die koalisievennote weer ‘n 6 teen 5 meerderheid in die raad besorg.

‘n Raadsvergadering wat gereël is vir 7 November om ‘n mosie van wantroue in die ANC-speaker, Maxwell Heins, PA-burgemeester, William Farmer, en ANC-adjunk-burgemeester, Francois Kamfer, aan te hoor en te verwyder, het in chaos ontaard.

Die DA het die lidmaatskap van William Farmer (voorheen DA-speaker) beëindig nadat hy saam met die ANC in ’n wantrouemosie teen die die voormalige burgemeester, dr. Ruben Richards, en adjunk-burgemeester, Johan van Heerden, gestem het.

Die speaker Maxwell Heyns het besluit om die verslag van die dissiplinêre komitee, waarvan William Farmer die voorsitter is en hy die enigste getuie was, op die agenda te plaas voor die aanhoor van die mosie van wantroue.

Dit het gelei tot die onregmatige verwydering van vier raadslede, insluitend die VF Plus se raadslid, uit die raad in opdrag van die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer.

Dié vier raadslede het skriftelik verskoning gemaak vir raadsvergaderings wat die ANC/PA onreëlmatig belê het terwyl die raad in reses was met die aanloop tot die tussenverkiesing.

Die speaker het verkies om telkemale nie hul verlof gunstig te oorweeg nie en dissiplinêre stappe teen hulle ingestel.

Die koalisievennote het die Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, mnr. Anton Bredell, gevra om in te gryp by die munisipaliteit om die koalisievennote die geleentheid te gee om sy mandaat wat hy van kiesers ontvang het, uit te voer.

Die ANC en PA sal die koalisievennote nie verhinder om die belange van inwoners van die Cederberg-munisipaliteit voorop te stel nie.

Cederberg verdien beter as die ANC en PA se magsvergrype.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.