Die ANC en EFF het gister tydens ‘n spesiale raadsvergadering van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) gepoog om die burgermeester, Tyrone Gray, uit die kussings te lig.
Die teenwoordigheid van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het dié optrede aangevuur.
Die twee partye het soos gewoonlik die reglement van ordereëls oor prosedure wat gevolg moet word geminag en daarop aangedring dat ‘n mosie van wantroue teen die burgermeester op die agenda geplaas word.
Die ANC en EFF het tydens die verloop van die raadsitting voortdurend alles moontlik gedoen om die reëls in ‘n ontwrigtende wyse te buig en te vertolk.
Die VF Plus het ‘n hooggeregshof-uitspraak sowel as die toepaslike wetgewing voorgehou wat gewys het die EFF en ANC se optrede is ongrondwetlik.
Hulle het daarna te kenne gegee dat hulle nie die aansuiweringsbegroting, waarvoor die spesiale raadsitting gehandel het, sal steun voordat daar aan hul eise toegegee word nie.
Met die ontwrigting is die vergadering noodgedwonge verdaag en kon die aansuiweringsbegroting nie soos wetlik voorgeskryf word, goedgekeur word nie.
Dit het tot gevolg dat die munisipaliteit vanaf 1 Maart nie sekere dienste sal kan lewer nie.
Hierdie optrede druis in teen die gedragskode van raadslede en die VF Plus eis optrede teen die betrokke raadslede.
Hebsug en magsbeheptheid is die motivering van hul optrede en is geensins in belang van die inwoners van Krugersdorp nie.