Die VF Plus is sterk gekant teen die optrede van raadslede in die Tshwane-metroraad wat weens politieke verdeeldheid telkens die raadsaal verlaat en raadslede wat hul pligte wil uitvoer, verhinder om dit te doen.
Die werksaamhede van die Tshwane-metroraad word gekortwiek deur stadsraadsvergaderings wat sedert November verlede jaar telkens deur raadslede van die ANC en EFF ontwrig word.
Hierdie tendens strek tot nadeel van elke inwoner van Pretoria en omgewing en kan nie langer geduld word nie.
Die werksaamhede van die Tshwane-metroraad word verder benadeel deur herhaaldelike pogings van die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, om die Tshwane-metroraad onder administrasie te plaas.
Maile is gedurende premier David Makhura se onlangse provinsiale rede oor die vingers getik omdat hy die Tshwane-metroraad uitsonder as ‘n probleem terwyl talle ander munisipaliteite groter probleme ondervind en dringende aandag verdien. Munisipaliteite aan die Wes-Rand en Emfuleni is in ‘n daaglikse stryd gewikkel met rioolstortings, wanadministrasie en kragonderbrekings.
Die VF Plus sal nie die stryd gewonne gee nie en aanhou veg vir die inwoners van die Tshwane-metro se reg tot behoorlike en effektiewe dienslewering.
Kontaknommer: 083 448 9473