fbpx
Vryheidsfront Plus

Amerikaanse stad wys hoe ‘n minimum-loon tot werkloosheid en armoede lei

Dit is van die grootste belang dat die Suid-Afrikaanse regering let op die verwoestende gevolge van ‘n minimum-loon in Seattle, Amerika, waar dit tot groot werkloosheid gelei het selfs nog voor die wet op 1 April in werking tree, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

In Suid-Afrika is ‘n minimum-loon ook op die kaarte en die ANC-regering het reeds gesê hy is vasbeslote om dit so gou as moontlik deur te voer.

Openbare verhore oor ‘n minimum-loon word tans landwyd in Suid-Afrika gehou en die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) moet teen Julie 2015 oor die gevolge van ’n nasionale minimum-loon verslag doen aan die regering.

Volgens adv. Alberts word reeds vanuit Amerika berig oor die effek van verpligte hoër lone in Seattle in die staat Washington.

Luidens ‘n berig in die Bussiness Day vandeesweek het Washington se beleidsentrum bekend gemaak dat talle ondernemings reeds gesluit het maande voor die wet in werking tree. Die minimum-loon wat in Seattle gaan geld is 15 dollar per uur, terwyl die federale minimum-loon die helfte daarvan beloop.

Luidens berigte het die Amerikaanse Kamer van Koophandel begin verlede jaar reeds gewaarsku dat dit tot werkloosheid sou lei, maar daar is nie ag op die waarskuwings geslaan nie.

Adv. Alberts sê daar bestaan geen twyfel nie dat die effek in Suid-Afrika, met sy veel kleiner en swakker ekonomie, veel meer vernietigend sal wees.

“Cosatu, soos ander vakbonde wat groot voorstanders van ‘n minimum-loon is, eis tot R7 000 per maand. Suid-Afrika sukkel reeds met groot werkloosheid en hoër lone sal na alle waarskynlikheid werkskepping aan bande lê en meer mense in armoede dompel terwyl net ‘n klein hoeveelheid voordeel daaruit sal trek.

“Die VF Plus sal aanhou om die realiteit hiervan onder die regering se aandag te bring. In Amerika word ‘n groot stad nou byna tot stilstand gedwing deur minimum-lone. In Suid-Afrika kan dit met die hele land gebeur,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.