(Begrotingsposdebat in parlement: Kantoor van die hoofregter)
Die VF Plus verwelkom die Raad vir die Bevordering van die Grondwet se klag wat ingedien is by die parlement oor die gedrag van sekere parlementslede wat op die Regterlike Dienskommissie dien en wie se optrede gesien kan word as die ondermyning van die regbank se onafhanklikheid.
Die VF Plus dring daarop aan dat die klag deeglik ondersoek moet word.
Alhoewel die kantoor van die hoofregter hoofsaaklik ingestel is om die hoofregter en administrasie van hooggeregshowe te steun, het die sewentiende wysigingswet op die Grondwet die hoofregter aangewys as hoof van die regbank wat verantwoordelik is vir die daarstelling en monitering van norme en standaarde vir die uitoefening van die regterlike funksies van alle howe.
Die beplande oordrag van meer funksies vanaf die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling aan die kantoor van die hoofregter en hofadministrasie moet opgeskort word totdat dié kantoor voldoende toegerus is.
Die agterstande in die hooggeregshowe in Suid-Afrika is ‘n growwe skending van die regte van slagoffers van misdaad en geskille en hou ‘n bedreiging vir die regstelsel in.
Die Covid-19-krisis het beklemtoon hoe ondoeltreffend hofprosesse is en die uiterste behoefte om die howe te moderniseer en te digitaliseer.
Voorgestelde begrotingsbesnoeiings rakende die vergoeding van werknemers van howe beteken dat kritieke poste nie gevul sal word nie wat die agterstande sal vergroot en die ondersteuning aan die hoofregter se kantoor in gedrang kan bring.
Die skoon oudit van die ouditeur-generaal (OG) en gepaardgaande kommentaar oor die hoë standaard van bestuur by die kantoor van die hoofregter, word verwelkom. Die kommentaar oor menslike hulpbronne, as ‘n gebied van swakheid, is kommerwekkend.
Die volwaardige spesialishof wat deur die Wetsontwerp op die Grondhof (vir grondeise) beoog word, met 'n regter-president en meer regters om oor grondeise-sake te beslis, sal 'n ramp wees indien hy nie oor genoeg hulpbronne beskik om die hof te ondersteun nie.