fbpx
Vryheidsfront Plus

Afskaffing van brandstofheffing kan ekonomie red – selfs die staatskas kan daarby baat vind

(Parlementêre debat oor stygende brandstofpryse)

Die rekordvlakke wat brandstofpryse tans bereik, stel die Suid-Afrikaanse ekonomie in gevaar. Om die belastingkomponent daarvan heeltemal te verwyder, kan die ekonomie laat herstel en sal, ironies genoeg, tot verhoogde staatsinkomste lei.

Die vernaamste rede vir die onlangse prysverhogings is die gevolg van die stygende ru-olieprys en die dalende rand – faktore waaroor Suid-Afrika nie direkte beheer het nie.

Nogtans is dit 'n krisis binne 'n krisis van ekonomiese agteruitgang en korrupsie, wat tot 'n veel groter mate onder die land se beheer is.

Indien ‘n mens 'n langtermyn-siening neem, is fossielbrandstowwe se dae getel. Elektriese vervoer en waterstof as energiebron is twee tegnologieë wat die wisselende beskikbaarheid van hernubare kragbronne kan stabiliseer.

Nogtans is ru-olie tans nog die vernaamste bron van vervoerenergie en die onmiddellike krisis moet die hoof gebied word.

Dit is belangrik om die berekening van die brandstofprys opnuut te ondersoek.

Die besparings wat met 'n herberekening van die basiese brandstofprys en winsgrense in die verspreidingsketting moontlik is, kan 'n verskil maak. Daardie verskil kan egter binne 'n kort tyd deur skommelings in die ru-olieprys of die waarde van die rand ongedaan gemaak word.

Die soeklig behoort na die belastingkomponent te skuif.

Verskillende belastings maak tans R4,77 van die kleinhandelsprys van petrol uit. In 'n tyd van beurtkrag is daar duisende liter kleinhandelbrandstof wat nie op paaie gebruik word nie.

Verder is goedkoper voertuie gewoonlik ouer en swaarder op brandstof. Daarom is dit vanpas om die Padongeluksfonds se heffing na 'n verpligte derdepartyversekering te verskuif.

Die algemene brandstofheffing lewer ongeveer R90 miljard vir die staatskas op. In vergelyking daarmee is sowat R300 miljard as gevolg van die grendelstaat verloor. Daardie verlies is met 'n noodbegroting in die totale staatshuishouding geabsorbeer.

Brandstofpryse kan 'n drempel oorsteek wanneer die ekonomie tot stilstand kom; of selfs tot burgerlike opstande lei.

Die krisis wat Suid-Afrika in die gesig staar, staan nie terug vir dit wat sedert 2020 beleef is nie. Ewe drastiese stappe behoort van toepassing gemaak word.

Die groot verskil met die grendelstaat is dat die R90 miljard-verlies aan staatsinkomste in werklikheid 'n inspuiting in die ekonomie is.

Daardie geld gaan vir huishoudings en ondernemings beskikbaar wees en kan tot hoër ekonomiese groei aanleiding gee.

Wanneer ekonomiese groei plaasvind, is die uitwerking daarvan moeilik om te voorspel. Dit kan gebeur dat die staatskas voller word, pleks van leer.

Die belangrikste inkomstebron vir die Suid-Afrikaanse staat is persoonlike belasting, met maatskappybelasting in die tweede plek.

Indien die ekonomie groei, word hierdie inkomstestrome groter en gevolglik ook die deel daarvan wat die staat kan aftap.

Die staat mag huiwerig wees om hierdie inkomstebron prys te gee, maar op die slegste sal dit veel goedkoper as ekonomiese ineenstorting en openbare wetteloosheid wees.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.