Aangesien geen instrumente wat by e-tol gebruik word gesertifiseer is soos die wet vereis nie, is alle advertensies rondom e-tol onwettig en dit moet sonder verwyl stopgesit word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Adv. Alberts sê die VF Plus het vandag ‘n skrywe aan Sanral gerig waarin gevra word om alle e-tol-advertensies wat tans op verskeie media-platforms soos TV, radio en koerante geplaas word, te onttrek. Die spertyd is eerskomende Vrydag om 17:00.
Hy sê indien Sanral nie gunstig reageer nie, sal ‘n klag by die Gesagsowerheid van Reklamestandaarde (GRS) ingedien word. Die klag hou verband met die feit dat e-tol-instrumente nie gesertifiseer is soos vereis word deur die Regsmetrologiewet 9 van 2014 nie.
Dié wet meld in artikel 35 dat geen meetbare produk of diens geadverteer mag word tensy die meting waarna in die advertensie verwys word aan al die wetlike vereiste voldoen nie. Met e-tol is dit nie die geval nie.
“Die verbreking van die artikel stel ‘n misdryf daar. Die hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies het onlangs skriftelik aan die VF Plus erken dat geen sertifikasie vir die e-tol-meetinstrumente bestaan nie,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403