’n Plakkaat wat by 1 Militêre Hospitaal in Pretoria op die tweede vloer geplaas is om mense meer bewus te maak van geweld in Suid-Afrika in ’n poging om mense te skool om nie geweld te gebruik nie, hits juis geweld aan. (Plakkaat hierby aangeheg).
Die plakkaat is absoluut rassisties aangesien dit deurgaans verwys na apartheid se skuld vir die geweld in Suid-Afrika.
Die plakkaat se boodskap, met sketse ter illustrasie, begin deur te sê dat mense se omstandighede tydens die apartheidsjare gelei het tot “woede en geweld” omdat hul menseregte geskend was.
Dit gaan voort deur te sê mense het swak mediese geriewe gehad, nie genoeg kos en skoon drinkwater nie en dat hulle gely het onder geweld van die polisie en die weermag.
Ook dat jong mense nie ‘n goeie opvoeding gehad het nie wat hulle verhinder het om goeie werk te kry.
Al hierdie dinge het “woede en geweld” veroorsaak. Gemeenskappe het sodoende geleer om hulself met geweld te beskerm.
Al het daar ‘n verandering van regering gekom, het geweld gebly aangesien wapens “deel van mense se daaglikse bestaan” geword het en geweld deel van swart mense se “kultuur”.
Hierdie plakkaat is nie net rassisties nie, maar dit regverdig geweld teen die agtergrond van apartheid en vertroebel rasseverhoudinge.
Ek beskou dit in ‘n ernstige lig en sal ‘n skrywe stuur aan die minister van verdediging, me. Thandi Modise, om daarop aan te dring dat die plakkaat oral verwyder word.
Daar moet wegbeweeg word van die gebruik om weens eie onbevoegdheid vir dienslewering en talryke ander maatskaplike probleme, die skuld vir alles op apartheid te plaas.
Daar kan nooit enige regverdiging wees vir geweld wat in die algemeen ook gemik is teen vroue en kinders nie.