Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Herstel en bou!

Kom ons herbou. Die VF Plus se bouplan bied daadwerklike oplossings en hoop om ʼn beter toekoms te bou. Dit behels:

  • veelpartyregerings wat die ANC uit bewind hou en die huidige verval herstel;
  • ‘n vryemarkstelsel wat bou en herstel moontlik maak;
  • ‘n klein sentrale regering met ‘n mindere rol in burgers se lewe;
  • die herstel van plaaslike regering;
  • selfstandige gemeenskappe as die boustene;
  • gemeenskappe se grondwetlike reg tot selfbeskikking as die sement; en
  • die afskaffing van wetgewing wat diskrimineer op grond van velkleur.

Opsomming van die VF Plus se manifes

Die VF Plus se manifes en beleidsraamwerk bied die bouplan om Suid-Afrika se kernprobleme op te los en om herstel te bewerkstellig. Die volgende is die kern tot hierdie bouplan:

  • Bevorder die vryemarkstelsel en gelyke toegang tot geleenthede.
  • Vestig ‘n kleiner, fikser sentrale regering met minimale betrokkenheid in burgers se lewe.
  • Bevorder ‘n staat waar almal gelyk is voor die reg en roei alle vorme van korrupsie uit.
  • Skaf rasgegronde Regstellende Aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging af; gebruik sosio-ekonomiese omstandighede as die voorwaarde vir bemagtiging en bevorder gelyke geleenthede vir almal.
  • Verwesenlik die internasionaal erkende en grondwetlike reg van gemeenskappe tot selfbeskikking.
  • Vestig gemeenskapsrade.
  • Meer outonomie aan provinsies.
  • Skep ‘n plaaslike regeringstelsel wat kleiner en meer plaaslik is.
  • Vestig ‘n spesiale ondersoekeenheid wat beweerde onwettige bedrywighede van munisipale amptenare ondersoek. Dit sluit oortredings van omgewingswetgewing in.
  • Beperk staatsbesteding; privatiseer staatsentiteite; verhoog staatsinkomste deur groei te stimuleer; bring belastingverligting; en bring ‘n fiskale kommissie tot stand.
  • Beskerm privaateiendomsreg.
  • Belê in die opgradering en instandhouding van die elektrisiteitsverspreidingsnetwerk; spreek elektrisiteitsdiefstal aan en beveilig elektrisiteitsinfrastruktuur; moedig die oorskakeling na hernubare-energiebronne, soos sonpanele, aan; finaliseer die ontbondeling van Eskom in aparte entiteite; spreek die administratiewe rompslomp wat met lisensiëring van privaat elektrisiteitsopwekking gepaardgaan aan en skep ‘n gunstige regulatoriese omgewing vir privaat elektrisiteitsopwekking en mededinging in die sektor.
  • Pas beperkende arbeidswetgewing aan om werkskepping te bevorder terwyl billike arbeidspraktyke steeds in stand gehou word; bevorder ‘n gunstige omgewing vir die privaat sektor om werk te skep en staak die onvolhoubare praktyk waar die staat self probeer werk skep.
  • ‘n Hoë standaard van onderwys met toegang vir almal tot moedertaalonderrig tot op die hoogste moontlike vlak wat ouer- en gemeenskapgedrewe is.
  • Ontwikkel selfstandige, plaaslike ekonomieë en vestig funksionele spesiale ekonomiese sones.
  • Tariefbeskerming, navorsing, rampverligting en infrastruktuurskepping moet klein- en kommersiële boere bevoordeel.
  • Die ontwikkeling van ‘n omgewingsvriendelike beleidsraamwerk en die effektiewe toepassing van omgewingswetgewing is nodig vir gunstige omstandighede vir volhoubare landbou-, bosbou- en visserybedrywighede.
  • Kleinskaal viskwotas moet aan gemeenskappe in en om kusgebiede toegewys word en frontmaatskappye en misbruik moet voorkom word.
  • Die land moet wegbeweeg van omgewingsvernietigende produkte, praktyke en energiebronne. Besoedeling moet stop en herwinning bevorder word; prioritiseer hernubare-energie en wesenlike belastingkortings moet geld vir huishoudings en sakeondernemings wat na alternatiewe energiebronne omskakel.
  • Maatreëls wat woestynvorming voorkom en die bevordering van die rehabilitasie van grond waar woestynvorming reeds plaasgevind het.
  • Spreek die gebreke in die strafregstelsel aan om die groot voorkoms van verkragting en geslagsgeweld daadwerklik stop te sit.
  • Herstel wet en orde deur spesialiseenhede vir geweldsmisdade, kinder- en mensehandel, georganiseerde misdaad, bendegeweld, dwelmhandel en plaasmoorde.
  • ‘n Gehalte gesondheidsorgsektor waar kundigheid bo transformasie geprioritiseer word; die oorregulering van mediese skemas gestaak word; openbare gesondheidsinfrastruktuur opgradeer word; samewerking tussen die openbare- en private gesondheidsektore bewerkstellig word en die huidige NGV-wet geskrap word.
  • Bevorder taalregte en veeltaligheid.
  • Bou buitelandse verhoudinge op wedersydse respek en gee voorkeur aan lande met wie Suid-Afrika sterk handelsbande het of kan hê.
  • Doeltreffende grensbeheer waar die integriteit van die land se grense herstel word en onwettige immigrasie asook die beweging van onwettige goedere soos vuurwapens en dwelms oor ons grense gestop word.

Fokusareas

Die voorafgaande Manifes bied die bouplanne vir die tien fokusareas van die VF Plus se verkiesingsveldtog.

  1. Die bou van ‘n nuwe bedeling wat diversiteit erken en gemeenskappe se selfstandigheid bevorder.
  2. Die uitroei van korrupsie en kaderontplooiing om sodoende die staat se finansiële krisis, swak infrastruktuur en dienslewering te herstel.
  3. Die herstel van betroubare elektrisiteitsvoorsiening.
  4. Die herbou van die ekonomie met die bevordering van die vrye mark, werkskepping en privaat eiendomsreg.
  5. Die herstel van wet en orde, prioritisering van burgers se veiligheid en effektiewe grensbeheer.
  6. Die herstel van gehalte, toeganklike gesondheidsorg.
  7. Die bewaring van die omgewing en natuurlike hulpbronne deur volhoubare ontwikkeling.
  8. Bevorder gehalte gemeenskapsgegronde moedertaalonderrig.
  9. Bou deur die bevordering van omstandighede wat gunstig is vir landbou, bosbou en visserye en waar voedsekerheid beskerm word.
  10. Bou welvaart deur werklike bemagtiging sonder rasgegronde regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging – bevorder toegang tot gelyke geleenthede.

Kom ons bou ʼn beter toekoms!

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.