Die VF Plus het die menseregtekommissie (MRK) gevra om die oorsake te laat ondersoek wat gelei het tot die vorming van ‘n sinkgat in die erf van ‘n huis in Emalahleni/Witbank nadat nie die myn of die munisipaliteit verantwoordelikheid vir die rehabilitasie daarvan wil neem nie.
Die nasionale departement van minerale hulpbronne en energie het die VF Plus na die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit verwys ná ‘n navraag aangaande die myn.
Volgens die munisipale bestuurder, mnr. Sizwe Mayisela, is die munisipaliteit die bewaarder van die natuurlike omgewing, maar het beperkte jurisdiksie oor mynbedrywighede in die munisipaliteit.
Die eienaars van die betrokke huis, wat self drie jong kinders het, het intussen self maatreëls in plek gestel om te voorkom dat ‘n kind of dier in die sinkgat beland.
Inwoners van Jackaroo Park in Witbank in die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni / Witbank) is oortuig daarvan dat die sinkgat veroorsaak is deur mynaktiwiteite langs die woongebied.
Die steenkoolmyn het met sy werksaamhede begin nadat die woongebied reeds ontwikkel is.
Groot krake het sedert September 2021 in van die huise begin vorm – omstreeks dieselfde tyd as wat die sinkgat gevorm het.
Die VF Plus word met geen ander keuse gelaat nie as om die MRK te nader om die saak te ondersoek. Die inwoners van Jackaroo Park het die reg om in omgewing te woon en werk wat nie skadelik of gevaarlik vir hul gesondheid of welsyn is nie.
Die VF Plus se parlementslid vir minerale hulpbronne en energie, dr. Wynand Boshoff, sal ook aan minister Gwede Mantashe vrae rig oor onder meer op watter vlak van regering die verantwoordelikheid lê indien mynbedrywighede die omgewing binne 'n woongebied so gevaarlik maak dat dit selfs tot lewensverlies kan lei.