Die VF Plus het die Mangaung-metroraad versoek om dringend maatreëls in te stel om te verseker dat woonbuurte in Bloemfontien waar afval in sommige gevalle vir twee weke nie verwyder is nie, dié dienste nou kry.
Na berig word, is daar ‘n agterstand by munisipaliteite se direktoraat vir afvaldienste en vlootbestuur. Die VF Plus het verneem dat die vullisverwyderingsvoertuie die afgelope tyd nie funksioneer nie weens die feit dat lisensies in die vloot agterstallig is.
"Die VF Plus is oorval met klagtes van ongelukkige inwoners wat reeds vir weke nie vullisdienste kry nie, en het Mangaung se stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, versoek om dringend aan die vullis-situasie aandag te skenk, veral in ag genome dat Paasnaweek môre begin en normale dienste Dinsdag eers weer hervat word,"sê Devar Smit, VF Plus raadslid in Mangaung.
"Terwyl die ANC geld mors op duur partytjies vir die uittredende en nuwe premier van die Vrystaat, gaan Bloemfonteiners gebuk onder swak vullisbestuur.
"President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners onlangs aangemoedig om trots te wees op hul gemeenskappe en te sorg dat hul omgewing skoon en netjies is.
"Dit wil egter voorkom of daar geen politieke-wil by uitvoerende burgemeester van Mangaung, Olly Mlamleli, bestaan om daaraan uitvoering te gee nie.
"Vuisvoos belastingbetalers en inwoners van Mangaung verdien ‘n munisipaliteit wat sy mandaat om die omgewing skoon te hou, nakom en dienste verskaf waarvoor hulle betaal," sê Smit.