Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan die Polokwane-plaaslike munisipaliteit om onmiddellik die Seshego-rioolsuiweringsaanleg buite Pietersburg te besoek en ‘n oplossing te vind vir riool wat vanuit die aanleg in die Bloedrivier stroom.
Die versoek is gerig aan die burgemeester, Makoro John Mpe, en die waarnemende munisipale bestuurder, me. Thuso Nemugumeni.
Die VF Plus het self die aanleg op Vrydag 22 Julie besoek ná klagtes van inwoners oor die besoedeling. Die party het daarna met die direkteur, mnr. Meshack Thabo, en waarnemende bestuurder van waterdienste, me. Mma Shai, vergader oor die rioolkrisis, maar geen terugvoer is nog ontvang nie.
‘n Amptenaar by die aanleg het bevestig dat een van die pompe buite werking is en daar nie genoeg chemikalieë beskikbaar is om die riool te behandel nie.
Die soliede materiaal word net geskei en die res dan deurgepomp waarna dit in die Bloedrivier beland wat afvloei tot in die Sandrivier.
Ondergrondse waterbronne is al so erg besoedel dat inwoners en boere met boorgate nie die water vir menslike gebruik kan aanwend nie.
Die besoedeling van skaars waterbronne is uiters onverantwoordelik en is ‘n oortreding van die Nasionale Water- en Omgewingsbestuurswet.
Artikel 24 van die Grondwet bepaal ook dat elke mens die reg het tot ‘n omgewing wat nie skadelik vir sy welsyn of gesondheid is nie.
Indien die munisipaliteit die rioolbesoedeling nie vinnig en bevredigend oplos nie, sal die VF Plus strafregtelike klagte indien teen die waarnemende munisipale bestuurder en ook die Groen Skerpioene nader om die saak te ondersoek.
Dit is skandalig dat die ANC-beheerde munisipaliteit ooglopend toelaat dat kosbare natuurlike hulpbronne besoedel en gemeenskappe se gesondheid op die spel geplaas word deur blatante laksheid en wanbestuur.
Polokwane verdien beter as die ANC.