Die VF Plus het die Midvaal-plaaslike munisipaliteit (De Deur/Walkerville, Eikenhof, Meyerton, Vaal Marina) se burgemeester, Bongani Baloyi, versoek om dringend aandag te skenk aan Riversdale se padinfrastruktuur nadat grondpaaie daar onbegaanbaar geraak het.
Riversdale is ‘n opkomende woongebied in Meyerton waar middelklas en gegoede persone hulle vestig.
Veral Ronaldweg, Steynberg- en Katjiepieringstrate in die woonbuurt moet dringend geskraap word aangesien dit gevaarlik is om daar te ry soos dit tans daar uitsien en skade aan voertuie kan veroorsaak. Die werk moet gedoen word voordat erosie wat die paaie begin wegkalwe, ‘n veel erger situasie skep.
Tans moet inwoners op tweespoor-paaie na hul wonings ry terwyl ‘n gewilde restaurant se besoekers die beskadigde Ronaldweg moet aandurf om daar uit te kom. Ronaldweg is agtien maande gelede geskraap en is onrybaar.
Dit is onaanvaarbaar dat die inwoners van Riversdale getrou hul diensterekeninge en munisipale belastings betaal, maar nie die diens daarvoor ontvang nie.
Nuwe ontwikkeling is belangrik vir die plaaslike ekonomie en die Midvaal-munisipaliteit moet tred hou hiermee.
Die VF Plus sal aanhou om druk op die burgermeester plaas om toe te sien dat Riversdale se padinfrastruktuur opgegradeer word.