Die VF Plus betreur die aantal gewelddadige voorvalle in die Stad Kaapstad waarin talle mense koelbloedig doodgeskiet is.
Die vlaag van geweld het in Maart vanjaar begin en in die mees onlangse voorval is ‘n polisiebeampte wat ‘n gevangene in die Somerset-Hospitaal in Kaapstad opgepas het, oorval en doodgeskiet.
Twee weerlose pasiënte is ook sonder enige rede koelbloedig in hul beddens doodgeskiet.
Die VF Plus veroordeel hierdie moorde ten sterkste en betuig sy meegevoel met die naasbestaandes.
Die moorde en geweld is aanduidend van ‘n nasionale regering wat die stryd teen ernstige misdaad verloor het.
Die minister van polisie, Bheki Cele, se besoeke aan misdaadtonele en sy bywoning van begrafnisse is van geen waarde vir die veiligheid van die publiek nie.
Min. Cele moet misdaad voorkom. Dit help nie hy tree op as begrafnisondernemer en roubeklaer nie. Sy voortdurende beloftes en sterk uitsprake tydens begrafnisdienste oor misdaadvoorkoming is leeg.
Die onbevoegdheid van die ANC-regering en die polisie om hul mandaat na te kom om misdaad te bekamp, maak hulle medepligtig daaraan.
Dit dien terselfdertyd as sterk motivering dat polisiëring gedesentraliseer moet word en aan metrorade oorgelaat moet word wat nader aan gemeenskappe is.
Die VF Plus sal enige maatreël verwelkom om gemeenskappe te beveilig en effektiewe metropolisiedienste sal ‘n stap in die regte rigting wees.
Min. Cele se optrede wys herhaaldelik dat hy nie die visie, kennis of vermoë het om die polisie meer effektief en professioneel te maak nie.
Die onbevoegde en korrupte ANC-regering, tesame met werkloosheid en misdaad, is Suid-Afrika se grootste vyand.
Die oplossing lê in ‘n veelparty-regering wat waarlik die publiek se belange op die hart dra. Suid-Afrika en sy mense verdien beter as die ANC.