Die VF Plus neem met die metro se plaaslike dwelmadvieskomitee besliste stappe om dwelmprobleme in die Tshwane-metro aan te pak.
Die VF Plus se burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, Rina Marx, het dié inisiatief saam met die burgemeester, Randall Williams, geloods ten einde die groot probleem van dwelmmisbruik, veral onder die jeug, volhoubaar en effektief aan te pak.
Dwelmmisbruik het ‘n geweldige negatiewe impak op die gemeenskap en lei dikwels tot gesinsgeweld, algemene geweld, bende-aktiwiteite, diefstal en ander misdrywe.
Die komitee bestaan uit 22 lede vanuit verskillende sfere van die gemeenskap om die kwessie holisties aan te pak.
Dit sluit in onder andere lede in vanuit die gebiede van wetstoepassing, gesondheid, burgerlike groepe en die regering.
Die metro se koalisieregering, waarvan die VF Plus deel is, het die misbruik van dwelms en ander middele as prioriteit verklaar.
Derhalwe is daar in hierdie finansiële jaar R31,7 miljoen beskikbaar gestel om anti-dwelm- en verslawingsprogramme te finansier.
Die metro het ook met die Universiteit van Pretoria (UP) ‘n vennootskap aangegaan om saam die hoofprogram van die inisiatief, naamlik die Gemeenskapsgefokusde Dwelmgebruik-program, te bestuur.
Die doel van die program is om mense wat afhanklik is van dwelms, te rehabiliteer en te voorkom dat dwelmafhanklikheid in die eerste plek in gemeenskappe ontstaan.
Die metro het ook ‘n 24-uur tolvrye nommer daargestel met die naam Hopeline om persone met dwelmprobleme by te staan. Die nommer is 0800 611 197 of 0800 467 347.
Die plaaslike dwelmaksiekomitee sal alle aksies rakende dwelmprobleme en -misbruik koördineer.
Die VF Plus wys met hierdie inisiatief dat hy passievol is om die verskeie gemeenskappe in die Tshwane-metro se probleme daadwerklik op ‘n gefokusde en menslike wyse aan te spreek.