Nieteenstaande die remmende effek van die ANC-opposisie, het die VF Plus as deel van die koalisie-regering van Hessequa-plaaslike munisipaliteit (Albertinia, Gouritz, Heidelberg, Jongensfontein, Riversdale, Slangrivier, Stilbaai, Witsand) gehelp om ‘n munisipaliteit wat onder ANC-beheer bankrot was, weer op die wenpad te plaas en dit een van beter-bestuurde munisipaliteite in die land te maak.
"Die ANC het probeer om die begroting af te skiet deur beswaar aan te teken teen uitgawes vir ontwikkelings in Stilbaai wat volgens die ANC net ‘rykes’ bevoordeel en eerder in arm gemeenskappe bestee moes word," sê Johannes Hartnick, VF Plus-raadslid en uitvoerende onder-burgemeetster van die Hessequa-plaaslike munisipaliteit
"Die VF Plus het die ANC daarop gewys dat 45% van die munisipaliteit se inkomste uit Stilbaai kom teenoor minimale inkomstes van ander dorpe in die munisipale gebied. Dit is daarom belangrik dat geld teruggeploeg word in ‘n gemeenskap wat ‘n groot bydrae lewer in die groei en vooruitgang van Hessequa.
"Hessequa se begroting is pas goedgekeur en dit behoort in alle opsigte daaraan te voldoen om in die behoeftes van sy inwoners van alle gemeenskappe te voorsien.
"Die begroting is deursigtig en tot voordeel van almal in die streek. Die VF Plus sal aanhou om ‘n positiewe bydrae te lewer en streef daarna om Hessequa, wat onder ANC-bewind bankrot was, die beste munisipaliteit in die land te maak," sê Hartnick.
FOTO: (VLNR) Mnr Ferdi Berg (Bestuurder Fianansies,) Mnr Johan Jacobs (Munisipale Bestuurder), Me. Lien Viljoen (Direkteur Finansies), Rdl Ben Smith (DA), Uitvoerende Burgermeester Grant Riddles , Uitvoerende Onder Burgermeester Johannes Hartnick, asook Mnr. Andrew Stroebel (Speaker).