Die VF Plus in Gauteng se 2019-verkiesingsveldtog is reeds in volle swang nadat die party se verkiesingspan dié week regdeur die provinsie ontplooi is.
"Die party wil met sy “Slaan Terug”-veldtog die spelbreker word wat die stereotipe politieke landskap in die provinsie wil verander," sê Jaco Mulder, VF Plus-leier in Gauteng.
Die VF Plus het homself reeds bewys as ‘n betroubare koalisie-vennoot in Tshwane en Johannesburg
"Gauteng gaan vir te lank gebuk onder disfunksionele ANC-stadsrade en ‘n onbeholpe provinsiale- en nasionale regering wat reeds gefaal het. Agteruitgang in die provinsie is kritiek en ‘n “nou of nooit”-benadering met ‘n nuwe politieke styl is noodsaaklik.
"Die VF Plus het homself reeds bewys as ‘n betroubare koalisie-vennoot in Tshwane en Johannesburg se metro’s met verteenwoordiging in al elf stadsrade in Gauteng, die provinsiale wetgewer en op nasionale vlak in die nasionale vergadering.
"Die party is geposisioneer om toenemend die stem van Afrikaners en ander minderhede te word wat ‘n substansiële persentasie van kiesers in die provinsie en elders uitmaak.
"Die VF Plus veg onbeskaamd vir moedertaalonderrig, teen rasdiskriminerende wetgewing, korrupsie, onteiening sonder vergoeding, plaasmoorde en ander geweldsmisdade," sê Mulder.