"Die VF Plus gaan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid, dr. Dhlomo, amptelik versoek dat die komitee vroeg in die nuwe jaar begin met ‘n veldtog om elke provinsiale hospitaal en kliniek regoor Suid-Afrika te besoek om eerstehands te sien in watter toestand hierdie instellings is," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"Die VF Plus het tydens verlede Woensdag se komiteevergadering, met die departement van gesondheid se verskyning voor die komitee, daarop gewys dat hierdie besoeke sal moet plaasvind,.
"Die VF Plus het toe ook die departement en die ministerie gekritiseer oor korrupsie en wanadministrasie en dit duidelik gestel dat amptenare sowel as politieke hoofde wat hulle hieraan skuldig maak, in die tronk hoort aangesien daar met mense se lewe gedobbel word indien hulle hierdeur nie dienste by hospitale en klinieke ontvang nie."
"Die VF Plus gaan voorstel dat ‘n provinsie elke maand besoek word. Die besoeke moet voor Oktober 2021 afgehandel wees. Daarna moet die komitee ‘n volledige verslag oor die waarnemings saamstel en ‘n amptelike besluit neem oor hoe die kwessie voortaan behandel en opgelos gaan word.
"Hierdie besoeke sal onaangekondig moet plaasvind. Die huidige stand van sake in hospitale en klinieke kan en mag nie langer geduld word nie en daadwerklike optredes van die komitee is noodsaaklik om in hierdie totale gemors in te gryp.
"Die VF Plus het reeds die afgelope Vrydag die LUR van gesondheid in die Vrystaat, Montseng Tsiu, 21 dae gegee om ‘n ondersoek te doen na die afsterwe van ‘n pasiënt in een van die provinsiale hospitale," sê van Staden.