Die Vryheidsfront Plus eis antwoorde van die Noordwes-Universiteit (NWU) se visekanselier, dr. Bismark Tyobeka, oor die beweerde skorsing van die primaria van die Karlien-dameskoshuis op die Potchefstroom-kampus (Puk) nadat sy ‘n toespraak in Afrikaans tydens ‘n koshuisdinee gelewer het.
Indien dit waar is, sal die VF Plus ‘n klagte indien by die menseregtekommissie (MRK), aangesien dit blatante diskriminasie teen Afrikaans is.
Die NWU het vier amptelike tale, Engels, Afrikaans, Setswana en Sesotho, en die lewer van ‘n toespraak in een van die tale is binne die beleid.
Dit is onverstaanbaar dat die primaria hoegenaamd geskors is. Dit is niks anders nie as boelietaktiek, diskriminering en ‘n poging om Afrikaans te onderdruk.
Die VF Plus sal dit nie duld nie en eis spoedige antwoorde.
Ek sal ook ‘n direkte persoonlike afspraak reël met die visekanselier oor die aangeleentheid.