Die VF Plus het ‘n klag ingedien by die Groen Skerpioene teen die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) vir die wanbestuur van vullisterreine ingevolge die Afvalbestuurswet.
Luidens die Afvalbestuurswet moet vullisstortingsterreine aan sekere minimum vereistes voldoen soos toegangsbeheer, brandregulasies, omheining en rehabilitasie.
Die Govan Mbeki-munisipaliteit het die Kinross- en Evander-stortingsterreine se hekke gesluit vir rehabilitasie-doeleindes, maar daar is geen vordering met die rehabilitasieproses nie.
Inwoners van die munisipaliteit is uitgelewer aan swak vullisverwydering en stort noodgedwonge onwettig vullis langs die toegangspaaie na die vullisterreine.
Die munisipaliteit besit 'n vloot van twintig vullisverwyderingsvragmotors maar net agt is tans in werking.
Twaalf van die vragmotors is al vir maande in die meganiese werkswinkel vir herstelwerk.
Munisipale werkers moet ook onder moeilike omstandighede sonder die nodige persoonlike beskermingstoerusting hul werk verrig.
Volgens die munisipaliteit se gemeenskapsdienste-departement is die tarief wat gehef word vir vullisverwydering die naasgrootste finansiële bydraer tot die munisipaliteit, maar dit word nie aangewend in die departement nie.
Die begroting vir vullisverwydering is gesny en die fondse verdeel tussen die verskillende munisipale departemente.
Die onwettige storting van vullis skep nie net ‘n estetiese probleem nie, maar hou risiko’s in vir mense se gesondheid, veral as gevaarlike stowwe onwettig gestort word.
Die Govan Mbeki-munisipaliteit moet strafregtelik aanspreeklik gehou word indien daar gevind word dat hy nie sy grondwetlike plig nakom om ‘n omgewing te skep wat nie skadelik is vir sy inwoners se gesondheid en welsyn nie.
Die VF Plus het intussen in samewerking met die gemeenskapsdienste-komitee stappe begin om 'n projek te loods vir die opruim van die toegangspaaie tot die terreine.