Die bewaking van kragbokse en kragvoorsieningspunte in Krugersdorp, wat ten duurste deur ‘n private sekuriteitsmaatskappy namens die Mogale City-plaaslike munisipaliteit gedoen word om diefstal te probeer bekamp, plaas groot bykomende druk op belastingbetalers.
Mogale City se wankelrige finansiële status word verder onder druk geplaas deur 700 kragpunte te bewaak om die diefstal van kragbokse, kragkabels en mini-substasies te probeer voorkom.
Die VF Plus is van mening dat die toevloei van haweloses, wat in honderde klein tente op sypaadjies veral in die middedorp woon, ‘n bydraende faktor tot hierdie soort misdaad kan wees. Baie van die tentbewoners het ook nou na verskillende woongebiede verhuis.
Gisteroggend (12 September) is twee kragbokse gevandaliseer waarna die middedorp sonder krag gelaat is.
Die sekuriteitsmaatskappy het ‘n hawelose verdagte in hegtenis geneem. Die munisipaliteit het reeds met herstelwerk begin.
Verlede week is ‘n kragboks in Noordheuwel gevandaliseer. Inwoners van die woonbuurt was ‘n dag sonder krag.
Inwoners van Mogale City (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) word nie net een of twee keer per dag deur beurtkrag geraak nie, maar soms vir dae wanneer ‘n kragboks gevandaliseer word.
Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners om aan te sluit by hul plaaslike buurtwag, gemeenskapspolisiëringsforums en selfs straatforums om die diefstal van infrastruktuur en by huise en ondernemings te help voorkom.