Die besluit van die polisie om deur ‘n bewys in die vorm van ’n tydelike dokument te bevestig dat ’n vuurwapen-eienaar se lisensie goedgekeur is, word verwelkom.
Dit sal dit nou makliker en vinniger maak vir vuurwapen-eienaars wat wag vir hul lisensie, om toegang tot hul vuurwapens te kry.
Dit is ook opnuut ’n bewys dat die polisie weet hy is só ver agter met die uitreiking van vuurwapenlisensies dat hierdie soort noodmaatreël in plek gestel moet word.
Dit VF Plus verwelkom dit nogtans en moedig vuurwapen-eienaars aan om nie moedeloos te raak oor die huidige gesloer nie.
Aansoekers kan nou hul plaaslike toegewysde vuurwapen-beampte nader om hierdie sertifikaat te verkry.
Op hierdie wyse kan vuurwapen-eienaars hul vuurwapens wettig in besit hê en ook daarmee rondreis.
Die VF Plus sal steeds in die polisie se parlementêre portefeuljekomitee alles moontlik doen om druk toe te pas op die polisie oor die vuurwapenlisensie-aangeleentheid.
Die party sal seker maak dat die kwessie van lisensies en die agterstand by die sentrale vuurwapenregister die nodige aandag geniet.
Die hoë vlakke van misdaad in Suid-Afrika vereis dat persone wat vuurwapens aanskaf om hulself te verdedig en wat aan die nodige vereistes voldoen, hul lisensie so gou moontlik kry.
Die tydelike bewys sal ook ’n groot hulpmiddel vir vuurwapenhandelaars wees wat nie onnodig belas gaan word met die berging van vuurwapens waarvan die lisensie reeds goedgekeur is nie.