Die VF Plus het ‘n strafregtelike klag ingedien teen die Nala-plaaslike munisipaliteit (Bothaville en Wesselsbron) se munisipale bestuurder, me. N. Radebe, en die burgemeester, mnr. T. Mogoje.
Die klagte hou verband met rioolbesoedeling in die Meyerhof-woongebied in Bothaville.
Dié rioolprobleem, wat al male sonder tal onder die munisipaliteit se aandag gebring is, besoedel nie net die omgewing nie, maar syfer ook deur na die grondwater.
Die klag wat by die Bothaville-polisie teen die munisipale bestuur ingedien is, is vir die oortreding van die Nasionale Omgewingsbestuurswet en in besonder met betrekking tot die Afvalbestuurswet en die Nasionale Waterwet.
Hierdie blatante besoedeling van die omgewing skep 'n enorme omgewingsgevaar en bring die inwoners se gesondheid in gedrang, terwyl die Grondwet duidelik bepaal dat inwoners die reg tot ‘n gesonde en veilige omgewing het.
Hierdie grootskaalse besoedeling van die omgewing en water is onaanvaarbaar en moet ten alle koste verhinder word. Die VF Plus eis daarom dat beide die rekenpligte amptenaar, sowel as die politieke hoof van die munisipaliteit, tot verantwoording geroep word.