"Die regering is besig om homself al hoe meer vas te loop teen die gereg oor sy drakoniese regulasies waar hy volle beheer probeer uitoefen oor landsburgers se keuse om self in isolasie of kwarantyn geplaas te word of in ‘n gerief opgeneem te word indien hulle positief vir Covid-19 getoets word," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"Vandag se uitspraak in die Noord-Gautengse hooggeregshof oor gedwonge kwarantyn is ‘n duidelike bewys dat mense se regte nie langer deur gedwonge regulasies ontneem kan word nie en dat die staat geen reg het om mense in staatsgeriewe in isolasie of kwarantyn in te dwing nie.
"Nie die regering of ‘n minister het die reg om enige persoon teen sy wil in ‘n staatsgerief te plaas nie."
"Die VF Plus stem saam met die hof se uitspraak. Daarvolgens kan ‘n persoon suksesvol self-isoleer of self-kwarantyn toepas indien die persoon wel oor ‘n apartekamer beskik en met niemand saam in die kamer woon nie. Sulke persone kan wel na ‘n gesondheidsgerief gaan indien hul toestand versleg.
"Die VF Plus is van mening dat die regering se drakoniese regulasies al hoe meer in die howe getoets gaan word en dat beslissings soos hierdie en ander ‘n paar weke gelede oor ander kwarantyngeriewe dit duidelik stel dat die regering mistas rondom vele Covid-19-aangeleenthede.
"Vandag se uitspraak gaan ook die druk op bestaande geriewe verlig en meer beddens gaan vir dringende gevalle beskikbaar word," sê van Staden.