fbpx
Vryheidsfront Plus

Politieke groep (SEFM) hou inwoners en Lesedi-munisipaliteit gyselaar met onwettige optrede

Dit is onaanvaarbaar dat die Specialist Economic Freedom Movement (SEFM) met sy onwettige optrede dienslewering in die Lesedi-plaaslike munisipaliteit (Devon, Heidelberg, Nigel, Vischkuil) ontwrig weens die ANC se beweerde belofte van die aanstelling van SEFM-lede in die munisipaliteit en die toeken van tenders vir steun.

Die SEFM het Woensdag die munisipale kantore in Heidelberg beset, personeel uitgejaag en die deure gesluit.

Daar kon die afgelope paar dae geen diens aan inwoners by die kantore gelewer word nie.

Die SEFM het die magsbalans met sy een setel in die guns van die ANC laat swaai nadat nie een party ‘n volstrekte meerderheid kon verkry ná die munisipale regeringsverkiesing in November verlede jaar nie.

Vir sy steun het die ANC die SEFM se raadslid, Thulani Mashinini, aangewys as burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid.

Die ANC-burgemeester, Mluleki Nkosi, het aan die VF Plus ontken dat enige poste in die munisipaliteit aan lede van die SEFM belowe is. Hy sê alle aanstellings moet deur die normale kanale plaasvind.

Die VF Plus steun die munisipale bestuurder, S’Busiso Dlamini, se dringende aansoek in die Johannesburgse hooggeregshof om die SEFM en sy lede te belet om die munisipale perseel te betree en dienste te ontwrig.

Die VF Plus gaan om ‘n volledige ondersoek vra na die voorval en daarop aandring dat die skuldiges ook strafregtelik aangekla word.

Daar kan nie toegelaat word dat inwoners van Lesedi se grondwetlike regte deur die roekelose optrede van enige politieke party vertrap word nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.