"Dit is onaanvaarbaar dat die polisie voorgee om hom te verbind tot die uitspraak in die Collins Khoza-saak waarin brutaliteit teenoor die publiek sterk veroordeel is, terwyl dit in die praktyk steeds voortduur. Die voorval in die Strand waar ‘n vroulike drawwer hardhandig in hegtenis geneem is, getuig daaraan," sê dr. Pieter Groenewald.
"Op ‘n video kan gesien word hoe die vrou hardhandig in hegtenis geneem word en in ‘n vangwa gelaai word. Sy is later vrygelaat omdat geen klag teen haar gevind kon word nie. Die VF Plus verwelkom die aankondiging dat die voorval ondersoek word.
"Daar moet nou ‘n voorbeeld van die betrokke beamptes gemaak word om die boodskap uit te stuur dat dié soort optrede teen die publiek onaanvaarbaar is."
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die adjunk-minister van polisie, Cassel Mathale, vandeesweek op dié voorval gewys ten tyde van ‘n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie.
Mathale het in antwoord op ‘n vraag van dr. Groenewald gesê verlede Vrydag (22 Mei) was die sperdatum vir die opstel van ‘n gedragskode vir die polisie en die weermag om onder meer ‘n meganisme in plek te stel wat dit vir die publiek moontlik sal maak om voorvalle van magsmisbruik aan te meld.
Dit was in opdrag van regter Hans Fabricius wat in sy uitspraak in die Khoza-saak gesê het die polisie en die weermag was nalatig. Hy het beveel dat die betrokke beamptes onmiddellik geskors moet word.
Dr. Groenewald het aan adj. min. Mathale gesê dit sou reeds help indien daar bevel gegee word aan die polisie en ander sekuriteitsmagte om ten minste hul fone te beantwoord soos wat polisiekommissaris, Kehla Sithole, doen.
"Dit sal die publiek, sowel as parlementslede van opposisiepartye in staat stel om voorvalle van polisie-brutaliteit teenoor die publiek aan te meld.
"Op verdere vrae van die VF Plus in die komitee het dit ook aan die lig gekom dat die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat (Opod), nie weet watter klagtes wat teen die polisie aanhangig gemaak word, verband hou met optrede ingevolge die Covid-19-regulasies nie.
"Dit bemoeilik ‘n sinvolle evaluering van magsvergrype tydens die ramptoestand. Om onwettige inhegtenisnemings te identifiseer en te behandel, moet daar duidelike onderskeid getref word tussen Covid-19 verwante gevalle en gewone gevalle.," sê Groenewald.