Die VF Plus verwelkom die aanbeveling van ‘n forensiese maatskappy dat mnr. Paul Mpele, gewese finansiële hoof van die Lesedi-munisipaliteit (Heidelberg, Nigel, Devon, Vischkuil), sy salaris van R1,2 miljoen per jaar sedert 2016 moet terugbetaal omdat hy oor sy kwalifikasies gejok het.
Die VF Plus het reeds op 12 Januarie 2016, gedurende ‘n spesiale raadsvergadering, teen die aanstelling van mnr. Mpele gestem omdat ander kandidate op die kortlys beter kwalifikasies gehad het.
Tydens dié munisipaliteit se laaste raadsvergadering vir die jaar op 6 Desember is die verslag van Gobodo Forensic Investigative Accounting aan die raad voorgelê waarna besluit is om dissiplinêr teen Mpele op te tree.
Die VF Plus het gevra dat raadslede wat in 2016 sy aanstelling goedgekeur het, ook verantwoordelik gehou kan word.
Mpele se CV dui aan dat hy ‘n B-Com-graad in rekeningkunde aan van die Universiteit van Durban-Westville verwerf het. Hy het slegs ‘n B-Com graad behaal en was ook nie eerlik oor sy beweerde nagraadse studies aan die Universiteit van Stellenbosch nie.
Die forensiese ondersoek-maatskappy het aanbeveel dat die munisipale bestuurder ook aanspreeklik gehou word. Die VF Plus is van mening dat hy e ander amptenare wat by Mpele se aanstelling betrokke was, alle kostes verbonde aan die ondersoek moet betaal.
Die VF Plus ondersteun die ondersoek en glo dat oneerlikheid en korrupsie uitgeroei moet word. Hierdie ondersoek is weer eens ‘n bewys die ANC is onbevoeg om ‘n munisipaliteit suksesvol te bestuur.
Kiesers word aangemoedig om nou vir ‘n party te stem wat ‘n verskil kan maak en sodoende saam met die VF Plus terug te slaan teen vergrype by plaaslike owerhede. Dit is nou of nooit.
Kontaknommer: 072 547 0481