"Dit was nie goeie leierskap nie, maar omstandighede wat president Cyril Ramaphosa gedwing het om die drakoniese Covid-19-inperkingsregulasies aansienlik te verslap," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Nie net het ANC-lede regdeur die strukture van die ANC die inperking grootliks misbruik om noodfondse te plunder nie, maar waarskuwings vanuit ekonomiese kringe het al hoe harder opgeklink dat die land se ekonomie 'n finale kantelpunt bereik het.
"Dit is ook duidelik dat die talle regsgedinge wat teen die regering aanhangig gemaak is, insluitend die hofaansoek van die VF Plus, druk op die regering laat toeneem het tot so ‘n mate dat hy toegewings moet maak."
"Die vlakverlaging word verwelkom, maar dit is te min te laat. Die skade wat reeds aan die ekonomie aangerig is, is enorm en VF Plus kan nie 'n vinnige herstel daarvan sien onder 'n ANC-regering nie, gegewe die feit dat die ekonomie reeds voor die pandemie tot rommelstatus versleg het.
"Die fiskus het in die laaste maande miljarde rand verloor want eindelik van die belastingbetaler verhaal sal word. Miljoene werksgeleenthede het verlore gegaan in ‘n arbeidsomgewing waar werkloosheid voor die inperking reeds kritieke vlakke bereik het.
"Dit raak ook toenemend duidelik dat die regering in werklikheid beheer word deur Cosatu van buite en van binne deur sekere enkelinge in sy kabinet soos min. Nkosazana Dlamini-Zuma.
"Cosatu het onlangs te kenne gegee dat die verbod op drank en sigarette opgehef moet word aangesien dit groot skade aan die ekonomie aanrig en werkloosheid veroorsaak. Die VF Plus sê dit lank reeds.
"Die waarheid hieroor is dat dit vir Cosatu oor sy eie sak gaan. Met die groeiende werkloosheid krimp sy ledebasis en inkomste en dit is die rede vir sy besorgdheid, nie die ekonomie as sulks nie.
"Die VF Plus verwelkom die president se klem op gesondheidsprotokolle. Die party huldig lank reeds die mening dat ekonomiese bedrywighede met die nodige gesondheidsprotokolle hervat kan word."
"Die president moet ag slaan daarop dat 53% van die openbare sektor, soos staatsondernemings, munisipaliteite en departemente; nie voldoen aan die huidige gesondheidsprotokolle nie. Dit is lank reeds 'n leemte wat eerder aandag moes geniet as wat daar met polisiëring gefokus is op onbenullighede soos mense op strande.
"Nie net ry dit dienslewering in die wiele nie, maar dit skep ook ‘n gesondheidsgevaar vir die groter publiek," sê Groenewald.