"Die Noordwes Universiteit (NWU) volg in die voetspore van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Universiteit van Pretoria (UP) met hulle taalbeleid oor Afrikaans. Die visekanselier prof. Dan Kgwadi is skynheilig as hy alumni probeer gerus stel dat die NWU se beleid veeltalig sal bly. Dit is presies dieselfde versekering wat die UV en UP aan sy alumni gegee het, sê Pieter Groenewald LP, VF Plus-leier
Groenewald sê die modus operandi is duidelik: Die taalbeleid van die NWU se nuwe statuut van Maart 2017 bepaal die taalbeleid moet buigsaam wees en taalbalanse van die verlede regstel. Die taalbeleid moet ook ”meertaligheid, toegang, integrasie en ’n gevoel van tuiswees bevorder.
"Wanneer dit by die praktiese toepassing van die beleid kom, word veranderde beleid ingestel. Uitgelekte dokumente toon dat die beplanning is dat Afrikaans stelselmatig uitgefaseer sal word in kursusse en ’n oorgang beplan word, waarna daar teen 2021 geen meer Afrikaanse klasse op eerstejaarsvlak aangebied sal word nie. Dit is dieselfde pad wat Kovsies (UV) en Tukkies (UP) gevolg het.
"Die sogenaamde konsultasieproses is net ’n rookskerm soos destyds met die kleure van die NWU. Die groot meerderheid was ten gunste van die maroen en teen die pers, maar pers is net eenvoudig geïmplementeer.
"Afrikaanssprekendes het ’n grondwetlike reg tot Afrikaanse onderrig, maar dit word vertrap en selfs deur die Grondwethof misken soos in die geval van Kovsies.
"Uit 38 universiteitkampusse is dit beslis nie te veel gevra om minstens een as oorwegend Afrikaans te behou nie," sê Groenewald.