Die VF Plus stel voor dat ‘n nuwe benadering gevolg moet word om kundigheid te ontwikkel om die pad na ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika te ontsluit aangesien die ANC-regering tot nou toe net gemaai het, maar nie gesaai het nie.
"Suid-Afrika se ekonomie is by ‘n kruispad waar die een rigting lei na ‘n groeiende ekonomie en sosiale kohesie, terwyl die ander rigting, waarop die regering tans is, die pad van wanhoop en verval is," sê adv Anton Alberts, VF Plus parlementêre woordvoerder vir ekonomiese sake.
Alberts sê die ANC het vir 23 jaar bloot ‘n herverdelende ekonomiese plan gehad wat nie volhoubaar was nie aangesien daar geen ontwikkeling plaasgevind het nie. Die land staan voor ‘n fiskale afgrond terwyl die stroping van sy bates net voortgaan.
Hy sê die enigste manier om uit die die krisis te ontstnap, is om ekonomiese groei eerste te stel.
"Die voorvereiste daarvoor is uitmuntende basiese en hoër onderwys. Dit is bewys deur talle state met stygende inkomste-vlakke, soos Suid-Korea, Taiwan, en Australië. Op ligter trant kan seker gesê word Australië bestuur sy ekonomie tans baie beter as wat hy krieket speel.
"Die omgekeerde is ook waar: Indien ons ekonomie net deels so goed bestuur was soos die Proteas tans krieket speel, sou dié debat nie nodig gewees het nie. Ongelukkig is die ANC se antwoord op ons krisis is om meer van dieselfde ekonomiese kwaksalwery toe te pas: Herverdeling totdat daar later net armoede oor is om te herverdeel.
"Die sogenaamde gelykheid in Zimbabwe is ‘n goeie voorbeeld: Almal in die land is ewe arm en honger terwyl die regerende elite in weelde leef. Dit is Suid-Afrika se voorland as ons nie wegstuur van herverdeling en onteiening sonder vergoeding na ekonomiese groei en welvaart nie.
"Tot nou toe kan die ANC nie die rampspoed insien waarop hy afstuur nie. Die antwoord hierop is dat hy ook die land se inwoners onteien van enige hoop op ‘n beter toekoms, sosiale kohesie en die vredesooreenkoms wat in 1994 onderhandel is.
'Suid-Afrika het wel ‘n kans om die Zimbabwe-scenario te vermy. Ten eerste sal sy jeug wêreld-gehalte onderwys moet kry. Aanstellings moet op meriete geskied en nie volgens ras nie. Ons moet ons met meriete staal vir die 4de- en 5de-industriële rewolusies.
"Robotte is hier. Hulle word al hoe slimmer en is die werkmag van die toekoms. Ons het dus alle rede om saam te staan en kollektief die korrekte ekonomiese pad te volg: Een van die vryemark, groei, goeie opleiding en meriete met die volhoubare vermoë om armes op te hef.
"Hierdie is ‘n wekroep vir die ANC om uit sy sosialistiese droom te ontwaak voordat die hele land oor die kommunistiese afgrond gesleep word," sê Alberts.