Gauteng se jongste misdaadstatistieke vir Oktober tot Desember verlede jaar, stel dit duidelik dat die polisie die stryd teen misdaad in dié provinsie verloor het.
Gedurende die tydperk is 1 721 mense in Gauteng vermoor wat ‘n styging van 9,6% is in ooreenstemming met die vorige drie maande.
In een geval is sewe mense doodgeskiet toe ‘n bende straatsmouse wat besig was om hoenderpote te verkoop, probeer beroof het. Die smouse het hulself teëgesit en die diewe met klippe bestook. Die bende het in ‘n motor geklim en weggejaag waarna hul later te voet teruggekeer het en die straatverkopers en bystaanders doodgeskiet het.
Ses ontbinde liggame is ook by ‘n paneelklopper in Johannesburg gevind. Die polisie ondersoek ‘n saak van mensehandel.
Dertien polisielede is vermoor waarvan vyf aan diens was en agt van diens was.
Kontakmisdade (misdaad teen persone) het met 8,3% gestyg tot 50 039. In die tweede kwartaal is 46 221 gevalle aangemeld.
Die VF Plus is bekommerd oor die styging in veediefstal waar 337 gevalle aangemeld is.
In Bronkhorstspruit (Pretoria-omgewing) en Fochville (Wes-Rand) is die meeste veediefstalle aangemeld.
Veediefstal kan dreigemente tussen plaasboere en rowers veroorsaak wat kan lei tot moontlike plaasaanvalle.
Trio-misdade het gestyg met 27 transitorooftogte en 307 vragmotorkapings.
In 102 gevalle het mense die reg in hul eie hande geneem wat daarop dui dat die polisie nie meer vertrou word om misdaad op te los nie.
Werkloosheid het sy tol op winkeldiefstal geëis met ‘n styging van meer as 28%. In drie maande is 3 984 winkeldiefstalle aangemeld.
Gauteng met die hoogste stygende misdaadsyfer in die land is duidelik ‘n onveilige provinsie om in te woon en dra by tot 27% van die land se misdaad.
Die VF Plus gaan vrae aan die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, rig om vas te stel of daar enige stappe geneem gaan word om die misdaadsyfers daadwerklik om te keer.