Die minister van polisie, Fikile Mbalula, moet dadelik optree en mnr. Robert McBride, die hoof van Opod, skors hangende die afhandeling van die saak waarin beweer word hy het sy dogter aangerand, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die feit dat die hof borgtog van R10 000 aan McBride toegestaan het, is ‘n aanduiding dat dit ‘n baie ernstige saak is aangesien die bedrag hoog is vir ‘n aanrandingsaak.
“McBride is in ‘n posisie waar verskillende bronne tot sy beskikking is en ondersoekbeamptes in sy saak kan maklik geïntimideer en onbehoorlik beïnvloed word. Hy moet daarom onverwyld geskors word totdat die saak afgehandel is.
“McBride was vinnig om te vra dat die vorige waarnemende nasionale polisiekommissaris lt.genl. Khomotso Phahlane geskors moet word totdat die ondersoek teen hom afgehandel is. Dubbele standaarde kan nie toegelaat word nie en die minister moet McBride daarom onmiddellik skors,” sê dr. Groenewald.