Kraanwater van Marble Hall in die Ephraim Mogale-plaaslike munisipaliteit is drinkbaar.
Só wys die uitslag van watertoetse wat die VF Plus verlede week by Lepelle Northern Water (LNW) se laboratorium laat doen het. Die uitslag van die toetse word hierby aangeheg.
Die VF Plus het talle navrae gekry na aanleiding van klagtes dat drinkwater in Marble Hall ’n slegte reuk het.
Watermonsters is by vyf drinkwaterkrane verspreid oor die dorp geneem asook by die dorp se reservoir.
Die toetsmetode wat gevolg is, word deur die LNW laboratorium aangegee as "SANS 241:2015”.
By die toets vir ‘pH eenhede teen 25˚C’ is die toegelate telling 6,80. Die maksimum telling is 9,7.
Die toets vir Nefelometriese troebelheidseenheid (NTU), dit wil sê die eenheid wat gebruik word om die troebelheid van 'n vloeistof of die teenwoordigheid van gesuspendeerde deeltjies in water te meet, was 47.10 (maksimum toelaatbaar is 170).
Hoe hoër die konsentrasie gesuspendeerde vaste stowwe in water, hoe vuiler lyk dit en hoe hoër is die troebelheid.
Die feit dat nie een van die toetse enige ernstige ongerymdhede kon vind nie, dui daarop dat watersuiwering in Marble Hall tans op standaard is en dat kraanwater gedrink kan word.
Oop waterbronne moet egter vermy word, omdat niemand kan waarborg dat besmetting daarvan voorkom kan word nie. Inwoners moet dus nie aanvaar dat kanaalwater drinkbaar is net omdat dit “skoon” lyk nie.
Die VF Plus hou die munisipaliteit vir al sy funksies verantwoordbaar, veral waar dit by inwoners se veiligheid en gesondheid kom.
Die party sal toesien dat Marble Hall se water gereeld getoets word.
Inwoners is welkom om die VF Plus se raadslid, mnr. Dries Prinsloo, te skakel by 076 399 9089 indien hulle bekommerd is oor die kwaliteit van kraanwater.
Met gereelde en betroubare inligting kan inwoners self besluit of dit nodig is om gebottelde water te koop.