"Julius Malema, leier van die EFF, is nie verhewe bo die reg nie en sy gevaarlike en kwalik verskuilde dreigemente van geweld teen polisielede in hul eie huise by hul gesinne, is niks anders as intimidasie nie," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Die VF Plus is in die proses om ‘n klag teen Malema by die polisie in te dien kragtens die Wet op Intimidasie (Wet 72 van 1982). In terme van dié wet kan ‘n persoon wat aan intimidasie skuldig bevind word, ‘n boete van R20 000 of tien jaar gevangenisstraf opgelê word.
"Malema het die afgelope naweek sy ondersteuners in die Mohokare-munisipaliteit in die Vrystaat toegespreek en gesê die EFF is “nie bang vir die polisie nie”.
"Hy het gesê polisielede is lafaards wat agter hul uniform skuil wat hulle meerderwaardig laat optree en dat die EFF polisielede die stryd sal aansê “in hul eie huis en by hul eie gesin”.
"Daar moet sterk opgetree word teen Malema aangesien hy duidelik toenemend radikaal word terwyl hy oënskynlik dink hy is onaantasbaar."
"Die VF Plus sal ‘n beroep doen op die polisie om die saak dringend te ondersoek aangesien daar nie toegelaat kan word dat hierdie soort dreigement ongestraf gelaat word nie.
"Sulke dreigemente het die potensiaal om Suid-Afrika in ‘n konfliksituasie te dompel en dit sou onaanvaarbaar wees indien Malema net weer skotvry daarvan kan afkom," sê Groenewald.