"Die Gautengse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, Faith Mazibuko, moet afgedank word," sê Philip van Staden, VF Plus-LPw in Gauteng.
Die VF Plus eis die kop van Mazibuko nadat sy vroeër in die week wit- en Indiër-amptenare van haar departement toegesnou het dat hul dankbaar moet wees hul het nog werk in ag genome hulle velkleur.
Die VF Plus glo dat Mazibuko met opset hierdie uitlatings gemaak het en dat geen verskoning wat sy in die openbaar teenoor wittes en Indiërs maak, die seer en pyn wat sy veroorsaak het by minderheidsgroepe gaan wegneem nie.
"Die Gautengse premier, David Makhura, sal dadelik vir Mazibuko moet afdank omrede haar optrede nie net haar departement nie, maar ook die Gautengse wetgewer in oneer gedompel het.
"Die wetgewer is ‘n nie-rassige instelling en die VF Plus voel dat Mazibuko nie meer ‘n plek daar het nie. Mazibuko het ook deur haar optrede die etiese gedragskode van lede van die wetgewer oortree.
"Die ANC is altyd vinnig om rassisme te skree wanneer opposisiepartye die ANC pak en teenstaan, maar as ‘n LUR van die ANC hierdie tipe van uitsprake in vergaderings maak teenoor lede van minderheidsgroepe, word daar net verskoning aangebied.
"Dit is tyd dat die ANC verantwoordelik gehou word vir die optrede van sy lede.
"Die VF Plus wil sien dat die LUR nie weer in die Gautengse wetgewer toegelaat word nie.
"Dit is tyd dat kiesers die ANC straf vir hierdie tipe optrede en daardie geleentheid is op 8 Mei," sê Van Staden.