Kragtoevoer tydens beurtkrag is op 27 September by die kantore van binnelandse sake in Potchefstroom herstel nadat die VF Plus ʼn versoek hiertoe gerig het tot die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi.
Dienslewering by die kantore is vir maande gekniehalter deurdat die nood-kragopwekker onklaar geraak het en nie herstel is nie. Die kantoor bedien inwoners van ʼn groot gedeelte van Noordwes.
Veral inwoners van afgeleë gebiede wat teen groot onkoste na Potchefstroom moes reis vir basiese dienste by binnelandse sake, is erg verontrief in hierdie tydperk.
Noodsaaklike dokumentasie soos identiteitsdokumente, paspoorte en doodsertifikate kon eers na verskeie besoeke aan die kantoor verkry word.
Dit is ʼn skande dat ANC-beheerde regeringsinstellings, wat verantwoordelik is vir die lewering van noodsaaklike dienste aan die gemeenskap, telkens bykans gedwing moet word om hul basiese verantwoordelikhede teenoor Suid-Afrikaners na te kom.
Sulke voorvalle belig weer die ANC se onvermoë om doeltreffend te regeer en professionele dienslewering aan die land se inwoners te lewer.
Suid-Afrika verdien beter as die ANC.


