fbpx
Vryheidsfront Plus

Kersfees- en Nuwejaarsboodskap: 2025

Die groter boodskap van die feestyd met Kersdag en die verwagting van ‘n nuwe jaar wat voorlê, is vir Christene een van onwrikbare hoop, geloof en vertroue.

Ons bou ons verwagtinge op die rots van hierdie vaste geloof en vertrou volkome op ons Leidsman, in goeie en in slegte tye.

Dit is ook die tyd van die jaar waarin daar bestekopname gedoen word van die jaar wat verby is. Mense laat hulle gewoonlik lei deur die vraag of hulle goed of sleg gedoen het.

Die vraag moet eerder wees of ons net ons allerbeste gedoen het.

In hierdie opsig glo die VF Plus dat sy deelname aan die regering van nasionale eenheid (RNE) ‘n groot rol gespeel het om ‘n nuwe golf van optimisme te laat posvat waar daar voorheen net wanhoop was.

Mense vergeet gou waar Suid-Afrika hom voor die verkiesing bevind het; hoe reddeloos die toekoms gelyk het en steeds sou lyk sonder die geleentheid om ‘n eenheidsregering te vorm waar soveel meer mense se drome en ideale verteenwoordig en beskerm word as wat voorheen die geval was.

Die VF Plus glo dat sy deelname aan hierdie regering die beste wyse is om sy beleid en ideale te bevorder en sodoende sy kiesers effektief te dien en hoop te gee vir ‘n beter 2025 en verder die toekoms in.

Die jaar wat verby is, was op persoonlike noot baie hartseer vir die VF Plus met die afsterwe van talle kollegas wat diep spore in die party getrap het, soos Marcelle Maritz, jarelange provinsiale leier in Limpopo.

Haar energie, werkywer en behoefte om deur die VF Plus waarlik beter omstandighede vir almal om haar te skep – hetsy binne of buite die party – sal nog lank gemis word.

Ná drie dekades van ANC-alleenheerskappy waar werkloosheid en armoede ongekende vlakke bereik het, is die groot vraag vir elke gewone Suid-Afrikaner steeds hoe sy toekoms daar uitsien en hoe veilig ons is.

Die antwoord is dat die RNE inderdaad hoop gebring het op beterskap.

Daar is vele uitdagings op hierdie pad, soos wat onlangs met die Bela-aangeleentheid gesien is. Die VF Plus glo nogtans dat daar deur wedersydse samewerking ‘n toekoms vir elkeen in die land gebou kan word.

Daar is ‘n plek vir elke mens in die land, en daar is ‘n plek vir elkeen se taal, sy geloof en sy tradisies.

Midde in hierdie aardse onsekerhede en uitdagings kan ons net met nederigheid op ons knieë ons kwellings en vrae voor ons Hemelse Vader lê, want dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig, sê die Bybel.

Dit is ook die Vryheidsfront Plus se uitgangspunt.

Die VF Plus wil dankie sê aan elke lojale ondersteuner wat die party steeds trots ondersteun. Hulle verstaan dat mense verkillende waardes en behoeftes het en waaroor die politieke stryd werklik in Suid-Afrika gaan. Hulle ondersteuning maak ons sterk.

Geniet u vakansie saam met u gesin en geliefdes en mag u die ware boodskap van Kersfees ervaar en geniet. Wees veilig en mag die uitdagings van die nuwe jaar met nuwe hoop en vertroue aangepak word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.