fbpx
Vryheidsfront Plus

Jammer belastingbasis is nie deur verhoogde BTW verbreed nie

Dit is jammer dat minister Pravin Gordhan nie die moed gehad het om Suid-Afrika se belastingbasis te verbreed deur BTW te verhoog nie. Met die begroting wat vandag aangekondig is, is dit net die handjievol belastingbetalers wat die belastingwa verder moet trek, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê vandag se begroting van die minister van finansies is nie goeie nuus vir reeds swaar belaste belastingbetalers nie aangesien persoonlike belasting weer verhoog is.

“Die VF Plus sê dit is jammer dat BTW nie met ten minste ‘n halwe persent verhoog is nie. Sekere basiese voedselsoorte is uitgesluit van BTW en ‘n verhoging sou die armstes van die armes nie geraak het nie.

“Wat ‘n verhoging wel sou beteken, sou wees dat die land se belastingbasis verbreed word. Daar is tans net sowat 4 miljoen belastingpligtiges wat meer as 90% van die land se persoonlike belasting betaal en so moet sorg vir die land se 55 miljoen mense.

“Deur hulle jaar na jaar oor te belas, gaan maak dat die belastingkoei binnekort leeg gemelk gaan wees. ‘n BTW-verhoging sou beteken dat ‘n groter deel van die bevolking sou help om die land se fiskus aan te vul.

“Daar is kommer oor die staatskuld van R2,2 biljoen (51% van die land se BBP) wat sowat twee keer soveel is as die inkomste van die staat. Die rente op die skuld beloop R169 miljard per jaar en dit is nie volhoubaar nie. Die minister se mikpunt is om die skuld af te bring tot sowat 48% van die BBP.

“Aan die positiewe kant is die minister se uitsprake dat hy strenger gaan optree teen korrupte staatsamptenare, dat besteding in die departemente verder ingeperk gaan word en verantwoordbare amptenare verantwoordelik gehou sal word vir ongerymdhede en vermorsing.

“Die belofte is al voorheen gemaak en die VF Plus sal wil sien wat die resultate daarvan is. Die minister moet sê hoeveel amptenare is tot nou ontbloot en vervolg weens korrupsie en die VF Plus sal die vraag aan die minister vra.

“Hy het voorheen ook gesê dat besparingsmaatreëls toegepas sal word met dinge soos luukse voertuie, konferensies en reis en verblyfkostes. Ons wil hoor wat die resultate hiervan is, anders is dit blote lippediens.

“Dit is nogtans duidelik dat Gordhan alles in sy vermoë doen om ‘n stabiele ekonomie te verseker en nieteenstaande vele beperkinge sy begroting so aanwend om aan die een kant die land se sosio-ekonomiese probleme soos maatskaplike toelaes te behandel en aan die ander kant ook beleggers te lok.

“Hy kry dit tot ‘n mate reg, maar die probleem is dat al hierdie goeie werk ongedaan gemaak word deur pres. Jacob Zuma. Die oomblik as die president sy mond oopmaak skep hy onsekerheid en vernietig hy al Gordhan se goeie pogings,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.