Die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak gaan veel eerder wrywing veroorsaak as om dit te voorkom. Veral in die hande van die ANC.
Die inhegtenisneming van die voormalige Pakistanse eerste minister, Imran Khan, weens kritiek op die regering, dien as tydige waarskuwing teen die voorgenome wet.
Khan se inhegtenisneming en die feit dat daar ‘n verbod geplaas is op openbare toesprake van die eertydse krieketster, wys hoe ‘n regering ‘n wet soos hierdie kan misbruik om die monde van sy kritici te snoer.
Dit hou eindelik ‘n totale bedreiging in vir vryheid van assosiasie én spraak.
Toe ek op 1 Februarie tydens ‘n komiteebespreking my kommer oor die wet uitgespreek het, het die adjunkminister van justisie, John Jeffery, rassisme daarvan gemaak.
Sy antwoord was (vry vertaal): “Mnr. Mulder is klaarblyklik bekommerd oor sy party se ondersteuners, wat sekerlik meestal wit Afrikaners is, aangesien hulle dikwels betrokke is in rassistiese voorvalle”.
Hierdie bevooroordeelde standpunte demonstreer presies waarom hierdie wet gevaarlik is en misbruik kan word. Veral deur die ANC. Dit mag nie realiseer nie.
In February vanjaar het ‘n staat in Indië ‘n verbod geplaas op geloofsgenesing aangesien dit glo gelowe teen mekaar kan afspeel.
Die Haatmisdaadwet sal hierdie soort van vertolkings moontlik maak soos dit blyk uit die bewoording van die klag teen die evangelis Simeon Chetty van Durban wat glo gesê het Jesus is groter as die Hindoegod Krishna.
Dit is eensydig vertolk as ‘n standpunt van christelike meerderwaardigheid oor Hindoes. Die saak is buite die hof geskik.
Die VF Plus stem nie saam daarmee dat voorvalle van rassehaat in die land besig is om toe te neem nie. Wat wel toeneem, is waar politici haatspraak gebruik vir politieke gewin.
Rassespanning is rondom 1994 op die spits gedryf deur die ANC self wat haat en onverdraagsaamheid as wapens gebruik het in sy sogenaamde “People’s war”.
Politieke moorde was so algemeen dat duisende daarvan ongesiens in die media verbygegaan het.
Die koms van sosiale media dra deesdae daartoe by dat die publiek bewus is van haas elke interpersoonlike voorval wat waarskynlik nie eens ‘n rasse-oorsprong het nie, soos diens in ‘n restaurant.
Die ANC skep graag deur oordrywing en die manipulering van inligting persepsies om sy politieke agenda te pas.
Suid-Afrika se howe is reeds oorlaai met werk. Die probleem word vererger deur ‘n tekort aan kundige personeel deur die hele strafregstelsel.
Hierdie wetsontwerp is onheilspellend en gaan onmoontlik wees om af te dwing. Dit sal eerder rassewrywing veroorsaak as om dit te voorkom.