Die besluit van die DA om De Waalrylaan in Kaapstad te herbenoem na Philip Kgosana-rylaan is skandalig gesien teen die agtergrond van reuse sosiale- en ekonomiese uitdagings in die stad soos ‘n ernstige waterkrisis, en die stad moet sê presies wat die proses gaan kos, sê dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus in die Wes-Kaap.
Philip Kgosana was ‘n bekende in PAC-kringe en het in 1960 ‘n optog van 30 000 mense vanaf Langa na Kaapstad gelei. Die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille wat self lank aan die PAC verbonde was, was ‘n groot voorstaander van hierdie naamsverandering.
Dr. Mulder sê daar was histories gesproke geen rede hoegenaamd waarom die vorige naam aanstoot kon gee nie.
“Sir Nicolas Frederick de Waal was vanaf Uniewording in 1910 die eerste administrateur van Kaapland. Die pragtige dubbelpad wat steeds uiters doeltreffend is om verkeer na en vanaf Kaapstad na veral die suidelike woongebiede te laat vloei, was sy idee en hy het die bou daarvan oorsien.
“Dit is dus direk aan De Waal te danke dat die pad vandag bestaan en ‘n reuse bate vir al die mense van die omgewing is. Om sy nagedagtenis en bydrae tot die stad op hierdie manier te vertrap, is ‘n skande.
“Die VF Plus sal daarop aandring dat burgemeester De Lille aan die stad se inwoners sê presies wat die naamsverandering sal kos. Kaapstad sit voor ‘n kritieke waterkrisis, tog wil dit voorkom of die stad onnodige onbenullighede fokus.
Dit is ‘n klap in die gesig van elke persoon wie se belasting hiervoor gebruik gaan word, en die VF Plus sal aanhou veg om die besluit om te keer, sê dr. Mulder.