Die VF Plus eis nou dringend antwoorde aangaande die voortslepende waterkrisis in die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit wat Greylingstad, Balfour en Grootvlei bedien.
Dié munisipaliteit sukkel al sedert die middel van 2023 met watertekorte.
Die munisipaliteit se gebrek aan volhoubare gebeurlikheidsplanne nadat herstelwerk aan die waternetwerke afgehandel is, is die hoofoorsaak van watertekorte in dele van die munisipaliteit.
Daar word ook geen daadwerklike poging aangewend om die swak kwaliteit van die beskikbare drinkwater te verbeter nie.
Verskeie watertoetse wat die VF Plus laat doen het, onderstreep dat die drinkwater nie geskik is vir menslike gebruik nie.
Dit is tekenend van die krisisbestuur wat die Dipaleseng-munisipaliteit volg om probleme op ‘n ad hoc-basis te behandel sonder enige daadwerklike optrede.
Die departement van water en sanitasie se onlangse uitreiking van die Groen- (riool) en Bloudruppelverslae onderstreep die krisis.
Dipaleseng het 0% vir die Groendruppelverslag ontvang en slegs 4% vir die Bloudruppelverslag (drinkwater).
Luidens die verslag sal daar redelike lae koste verbonde wees om die krisis op te los met goeie bestuur. Dipaleseng beskik egter nie oor die nodige gekwalifiseerde mense om dit moontlik te maak nie.
Hierdie skokkende lae evaluasiepunte is aangeteken nieteenstaande die feit dat daar onlangs meer as R100 miljoen bestee is aan die opgradering van die Fortuna-watersuiweringsaanleg.
Hierdie aanleg is tans een van die mees moderne aanlegte van sy soort in die land. Dipaleseng beskik ook oor twee reuse opgaardamme wat oorgenoeg water aan alle inwoners kan verskaf.
Die VF Plus oefen al sedert 2022 toenemende druk hieroor uit en het nou ‘n skrywe hieroor gerig aan die munisipale bestuurder, mnr. Lwazi Cindi, sowel as aan die burgemeester, me. Khethiwe Moeketsi.
Die bestuur moet nou ‘n stap-vir-stap aksieplan hieroor beskikbaar stel. Indien dit nie gedoen word nie, sal die VF Plus geen keuse hê as om ‘n klag by die Groen Skerpioene en menseregtekommissie (MRK) in te dien nie.
Hierdie swak beplanning en bestuur van noodsaaklike hulpbronne, veral waar dit gaan oor die voorsiening van lewensnoodsaaklike dienste soos water, kan nie langer op plaaslike vlak geduld kan word nie.