"Die EFF het vanoggend gedoen wat die VF Plus voorsien het deur geen waarde te heg aan ‘n hofbevel of sy ooreenkoms met die polisie dat net ‘n honderd mense “vreedsaam” aan die optog na die Hoërskool Brackenfell mag deelneem nie," sê dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep en provinsiale leier in die Wes-Kaap.
"Teen twaalfuur was daar volgens mediaberigte reeds meer as 600 EFF-lede op pad na die skool en in ‘n stadium moes die polisie skokgranate en traanrook gebruik om hulle in bedwang te hou. Ander waarnemers het die aantal protesgangers tot so veel as 2 000 geskat.
"Dit is duidelik dat nie die lede van die EFF, of sy leierskap, hul steur aan reg en orde of enige waarde heg aan ‘n bevel van die hof of amptelike ooreenkomste met owerhede nie.
"Daar kan dus in die toekoms geen waarde geheg word aan enige onderneming aan die kant van die EFF voor enige protesoptrede nie. Alhoewel die Grondwethof die reg tot protesoptrede in ‘n uitspraak bevestig het, is die voorskrif dat dit vreedsaam moet wees.
"Dit EFF het nou by herhaling gewys hy is nie verbind tot enige vreedsame protesoptrede nie. Sy optrede is tewens gemik op geweld, onrus en om rasseverdeeldheid te veroorsaak. Dit mag nie langer toegelaat word nie."
"Ewe onaanvaarbaar is dat die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRK) laat blyk het dat hy rassisme by die skool gaan ondersoek. Die EFF se boewery en rassehaat is klaarblyklik van mindere belang.
"Die MRK het lank reeds groot geloofwaardigheid ingeboet met sy partydige optrede, en reaksie soos hierdie laat die vraag ontstaan of die kommisie enigsins aan sy mandaat voldoen en of hy nie die teenoorgestelde vermag deur groter rasseverdeeldheid te veroorsaak nie.
"Dit blyk ook dat die polisie nie ‘n hofbevel uitgevoer het nie en teen vroegmiddag het die polisie luidens ‘n Netwerk24-berig klaarblyklik toestemming aan die EFF gegee dat 500 mense aan die optog mag deelneem.
"Dit maak ‘n bespotting van die reg en die VF Plus sal by die polisie en die owerhede van Kaapstad aandring op antwoorde," sê Mulder.