Die burgemeester van Mangaung metro-munisipaliteit (Bloemfontein, Dewetsdorp, Van Stadensrus, Wepener en Soutpan), me. Olly Mlamleli het Woensdag tydens ‘n mediakonferensie aangedui sy gaan voorstel die metro tussen 1000 en 2000 kaartjies per Bloemfontein Celtic sokkerwedstryd aankoop om aan armes uit te deel.
"Die ANC-regering stel slegs in korttermyn politiekery belang en die beoogde uitdeel van sokkerkaartjies sal gesien kan word as deel van die ANC se desperate verkiesingsveldtog om aan politieke mag vas te klou," sê Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid in die Mangaung Metro-munisipaliteit.
"Die metro gaan tans gebuk onder ‘n geweldige finansiële nood waar krediteure, soos Bloemwater nie betaal kan word nie en infrastruktuur verval. Mangaung word tans as die swakste metro in die land beskou en nasionale tesourie oorweeg om die metro onder administrasie te plaas.
"Die inwoners van die metro verdien dienste en ‘n verantwoordelike regering.
"Die metro faal om sy teikens vir dienslewering ten opsigte van watervoorsiening, sanitasie en instandhouding van paaie te bereik.
"Dit is onaanvaarbaar dat die burgemeester enigsins die koop van sokkerkaartjies oorweeg terwyl daar baie meer dringende prioriteite is. Die armes sal meer baat by infrastruktuurontwikkeling en toegang tot basiese dienste as by sokkerkaartjies.