Die mees onlangse plaasaanval op 'n plaas in die Bela-Bela- (Warmbad) omgewing waartydens 'n 73-jarige boervrou vermoor is en haar 82-jarige man ernstig beseer is, dien opnuut as bewys dat die ANC-regering nie ernstig is oor landelike beveiliging nie, sê Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus in Limpopo.
Maritz sê die regering se landelike beveiligingsplanne faal omdat die polisie nie behoorlik bemagtig word met voldoende hulpbronne en ondersteuning nie.
Sy sê die burgerlike samelewing moet nou deur middel van eie veiligheidsnetwerke en ander organisasies die beveiliging van burgers, wat die regering se grondwetlike plig is, waarneem.
“Dit is onaanvaarbaar en dui op die ANC-regering se totale onvermoë en laksheid in hierdie verband.
“Die VF Plus spreek sy dank teenoor Heritage Protection Group (HPG) uit wat as burgerlike misdaadsbestrydingsorganisasie tans besig is om na die moordenaars te soek. Geen klip mag onaangeraak gelaat word tot die aanvallers agter tralies is nie.
“Ek wil graag ook namens die VF Plus my diepste meegevoel en simpatie met die slagoffers se naasbestaandes uitspreek,” sê Maritz.