"Die VF Plus het vandag tydens ‘n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir handel, nywerheid en mededinging die mededingingsraad versoek om die vorming van nuwe monopolieë in die Suid-Afrikaanse handel en nywerheid met omsigtigheid te beoordeel om verdere werksverliese te voorkom," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van handel, nywerheid en mededinging.
"Die nagevolge van die afgelope agt weke se gedwonge Covid-19-inperking in Suid-Afrika mag onafwendbaar lei tot die moontlike samesmelting van maatskappye waar sakeredding nie ‘n opsie sou wees nie. ‘n Balans moet gevind word om die vorming van ongesonde nuwe monopolieë te verhinder en om terselfdertyd die ekonomie te beskerm.
"Onbelemmerde mededinging sonder staatsinmenging in die Suid-Afrikaanse handel is noodsaaklik vir die stimulering van ‘n mededingende ekonomie."
"Die VF Plus sal sy waghondrol verskerp om gesonde mededinging in ‘n markgerigte ekonomie te bevorder," sê Mulder.