Die VF Plus het gister tydens ‘n spesiale raadsitting sterk kapsie gemaak teen die aanstelling van me. Fikile Mudau, as lid van die Maruleng-plaaslike munisipaliteit (Hoedspruit) se interne finansiële ouditkomitee.
Mudau, wat voorheen die hoof finansiële beampte van die Polokwane-plaaslike munisipaliteit was, is in 2016 met ‘n goue handdruk by dié munisipaliteit weg nadat dissiplinêre stappe teen haar ingestel is.
Volgens die Polokwane-munisipaliteit het sy versuim om:
• Toe te sien dat die korrekte verkrygingsproses gevolg word.
• Binne die bestek en mandaat van die tender-evalueringskomitee op te tree.
• Toestemming van die raad te vra om ouditkomiteevergaderings van die Mopani-distriksmunisipaliteit en Makhado-munisipaliteit by te woon.
• Diensverskaffers reëlmatig aan te stel.
Volgens Polokwane kom haar optrede neer op growwe oneerlikheid en wangedrag.
Haar aanstelling as lid van Maruleng se ouditkomitee, is niks anders nie as kaderontplooiing en ‘n beloning vir haar vernietigingswerk in Polokwane.
Die ANC-beheerde Maruleng het met sy ondersteuning van haar aanstelling bewys dat hy nie omgee vir die inwoners van die munisipaliteit nie, maar sy kaders en vriende se belange voorop stel.
Hoedspruit verdien beter as die ANC.