2019-Verkiesingsmanifes

 

Inleiding

‘n Kwarteeu van ANC-regering – slegs agteruitgang en wanhoop

Suid-Afrika wankel op die rand van ‘n afgrond.

Misdaad is buite beheer met 57 Suid-Afrikaners wat per dag vermoor word.[1] Volgens die mees onlangse beskikbare data het Suid-Afrika die vyfde hoogste moordsyfer in die wêreld.[2] Die moordsyfer is 36 mense wat per 100 000 van die bevolking per jaar vermoor word. Indien dit met lande waar daar oorlog is, vergelyk word grens Suid-Afrika aan ‘n oorlogsone. In ‘n land soos Somalië waar daar tans oorlog is, is die moordsyfer 38, in Irak 40 en in Afghanistan 40.[3] Geen ekonomie kan groei terwyl geweldsmisdaad vergelyk met ‘n oorlogsone nie.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) is die gesonde norm van aantal landsburgers per polisiebeampte 220 mense. In Suid-Afrika is daar tans 383 burgers per polisiebeampte. Ons het ‘n tekort van 62 000 polisiebeamptes. Tans het ons slegs 194 000 beamptes vir ‘n bevolking van 57.3miljoen. Die syfers sluit die sowat 11miljoen ongedokumenteerde migrante uit.[4]

Plaasmoorde is ‘n nasionale krisis. Meer as 150 boere per 100 000 van die bevolking word per jaar vermoor.[5]

Terwyl ons belasting betaal moet ons ook ekstra geld bestee om onsself met privaat sekuriteit te beveilig.

Korrupsie vier hoogty op alle vlakke van die regering. Miljarde rande word jaarliks gesteel. Dit is ‘n daaglikse verskynsel – van ‘n paar duisend rand se bedrog of omkoopgeld tot miljarde rande. Die staat word deur kontrakteurs uitgebuit en betaal nie markverwante pryse vir produkte en dienste nie. Die ANC-regering laat dit toe. Sy kaders word verryk terwyl die armes armer word en belastings al hoe hoër. Dit is bereken dat Suid-Afrika tydens die afgelope vyf jaar R470miljard van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) verloor het as gevolg van korrupsie, wanbestuur en ondeurdagte beleidsrigtings.[6]

Die staat moet tans elke weeksdag R1.2miljard leen om sy begrotingstekort wat 4.7% van die BBP behels, aan te vul. Die rente op hierdie skuld beloop reeds R209.4miljard per jaar[7]. Die staat se salarisrekening is buitensporig en maatskaplike behoeftes van Suid-Afrikaners word jaarliks meer aangesien daar nie genoegsame ekonomiese groei plaasvind nie.

Meer as 17miljoen Suid-Afrikaners is tans afhanklik van maatskaplike toelae. Daar is meer mense afhanklik van hierdie toelae as wat daar Suid-Afrikaners is wat werk het. Hierdie onvolhoubare afhanklikheid het tussen 2001 en 2016 met 328% toegeneem.[8]

Werkloosheid het ‘n krisispunt bereik met 27,2% van die bevolking wat werkloos is en jeugwerkloosheid is ‘n nasionale ramp. Nagenoeg 52% van jeug in die land is werkloos.[9] Suid-Afrika se jeugwerkloosheidskoers is tans die hoogste in die wêreld.

Die regering se arbeidsbeperkende wetgewing en beleid is verantwoordelik daarvoor dat groot maatskappye eerder hul fabrieke en ondernemings na die buiteland skuif wat tot minder werksgeleenthede in Suid-Afrika lei.

Suid-Afrika het die negende hoogste belasting-tot-BBP las in die wêreld[10]. Suid-Afrikaners word oorbelas om die tekorte as gevolg van die regering se wanbestuur en korrupsie te befonds.

Regstellende aksie, kwotas en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) word al hoe strenger toegepas. Rasgebaseerde aanstellings en kwotas bedreig ekonomiese vryheid en reduseer aanstellingskriteria tot slegs ras, waar kundigheid, vermoë en ervaring nie in ag geneem word nie. Die gebruik van velkleur as kriterium vir bemagtiging is ’n veelvuldige onreg.

Ons natuurbronne en omgewing word vernietig deur ‘n onbevoegde regering met verkeerde prioriteite.

Suid-Afrika word ook geteister deur swak dienslewering.

Ons dorpe en stede is vuil.

Daar is min kundige staatsamptenare oor wat die werk kan doen. Daarom is daar ‘n verval in die gesondheidsorg, infrastruktuur, staatsbeheerde entiteite, departemente en munisipaliteite.

Onteiening sonder vergoeding bedreig elke Suid-Afrikaner se reg tot die besit van eiendom en reduseer wit Suid-Afrikaners, in besonder boere, tot diewe wat die grond/eiendom wat hul besit, gesteel het.

Na afloop van die parlement se aanvaarding van ‘n mosie ten gunste van ‘n proses om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het die landbousektor tydens die tweede kwartaal van 2018 met 29,2% gekrimp.[11] Die ANC en EFF se populisme oor grond vernietig Suid-Afrika se landbou en voedselsekerheid.

Die ANC soek ‘n sondebok vir alles wat verkeerd is in Suid-Afrika, vir al sy mislukkings en vir die totale verval van die land. Hy gebruik wittes as die sondebok en probeer sy kiesers behou deur wittes en apartheid die skuld vir die krisisse te gee. Rassepolarisasie word vir korttermyn politieke gewin gebruik.

Suid-Afrika verdien beter

Die ANC-regering het in die afgelope 25 jaar bewys hy verdien nie om hierdie pragtige land en sy mense te regeer nie. Die resep vir nasiebou sedert 1994 het nie gewerk nie.

Suid-Afrikaners verdien 'n werklike nuwe Suid-Afrika tot voordeel van al sy mense.

Uitgangspunt: “Die mens wik, maar God beskik”

Die VF Plus streef na ‘n politieke bestel waar Christelike waardes geld en gekenmerk word deur die beginsels van geregtigheid, waarheid, naasteliefde, respek vir lewe, lojaliteit en ‘n vreedsame naasbestaan.

Daar is hoop

Die mense van Suid-Afrika moet begin verenig rondom ‘n nuwe visie vir die toekoms. ‘n Visie waar jyself weer beheer neem oor jou en jou nageslag se toekoms gegrond op die waardes van integriteit, eerlikheid, hardwerkendheid, wedersydse respek en naasteliefde. Waardes wat nog altyd in die verlede die vaste fondasie gevorm het vir die skep van ‘n toekoms van vrede, veiligheid en voorspoed. Dít wat ons almal wil hê.

Die VF Plus se 2019-manifes vervat daadwerklike oplossings wat hoop bied om ‘n beter toekoms te bou.

 

‘n Nuwe bedeling

Bou eerder as om te herverdeel en te diskrimineer

Die uitgangspunt van die huidige regering om te poog om armoede te verlig en welvaart te skep deur welvaart te verdeel, sal nooit slaag nie. As gevolg van die gepaardgaande beleidsrigtings vind ekonomiese groei nie plaas nie en neem armoede en werkloosheid toe.

Regstellende aksie, of rasstellende aksie, laat ’n omvattende spoor van ekonomiese vernietiging.

Die VF Plus stem saam dat sommige mense met oorvloed potensiaal, hulle volle potensiaal weens gebreke in die stelsels nooit bereik het nie. Sulke mense behoort aktief bygestaan te word, maar sonder benadeling van ander mense. Om egter raskwotas blindweg af te dwing, is ’n veelvuldige onreg.

Velkleur kan nie gebruik word as ‘n veralgemeende aanduiding van minderbevoorregting nie en daarom moet velkleur nie as ‘n voorwaarde vir bemagtiging geld nie. Sosio-ekonomiese omstandighede, soos armoede, werkloosheid en ‘n gebrek aan toegang tot gehalte onderwys moet eerder as die grondslag vir bemagtiging gebruik word.

Sommige mense word tans in posisies aangestel waarvoor hulle bloot nie toegerus is nie. Dit skep spanning by die persoon self en lei tot onproduktiwiteit. Dan is daar uiters bekwame swart mense wat in enige opset sou presteer, maar die wolk van twyfel hang oor so iemand: Was dit dalk ’n regstellende aanstelling?

Onder wittes, bruines en ander nie-swartes word ’n nuwe geslag verbitterdes geskep. Mense wat volgens enige middeletoets vir hulp kwalifiseer en die potensiaal toon om te presteer, word op rassegronde oorgesien. Soortgelyke bitterheid het stukrag aan die ANC se magstryd verleen. Die VF Plus wil nie die belangrikheid van die lesse wat daaruit geleer is, sien verlore gaan nie en beywer hom om ’n herhaling daarvan te voorkom deur juis gelyke geleenthede vir alle Suid-Afrikaners voor te staan.

Terwyl die ANC die vereistes vir “regstellende” aksie verhoog en boonop deur ander opposisiepartye daarin gesterk word, staan die VF Plus gevolglik onomwonde daarvoor dat dit geskrap word.

Die vanselfsprekende slagoffers van regstellende aksie is wit- en bruin mense wat hulle werk verloor of nie werk kan kry nie, omdat hulle velkleur verkeerd is. Die verskuilde slagoffers is almal wat werk sou kry of beter werk sou kry, beter dienste sou ontvang en beter lewensomstandighede sou gehad het, indien die ekonomie as geheel gepresteer het en kundige persone aangestel is om dienslewering aan almal te verbeter.

Die vertrekpunt en beleidsrigtings van die regering moet eerder daarop fokus om ‘n beter toekoms te bou as op transformasie en herverdeling. Ekonomiese groei moet die prioriteit wees. Indien volhoubare ekonomiese groei plaasvind sal daar meer fondse beskikbaar wees om in maatskaplike behoeftes te voorsien, maar weens werkskepping wat sal plaasvind, sal minder mense van die staat vir maatskaplike funksies afhanklik wees.

Ekonomiese groei word egter beperk deur die regering se beleidsrigtings, wanbestuur en swak dienslewering. Daar is ‘n noodsaak vir beleidsekerheid, ‘n doeltreffende regering en toereikende infrastruktuurontwikkeling om ‘n gunstige omgewing vir die privaat sektor te skep, om te belê, werk te skep en ekonomiese groei te bewerkstellig.

’n Klein, doeltreffende regering

Suid-Afrika se staatsdiens is groot, lomp en amptenare word volgens internasionale standaarde te veel betaal. Dit is die gevolg van die sentralistiese denke uit die ANC se kommunistiese ideologie.

Ons moet terugslaan deur goeie regering op te eis. ’n Klein, doeltreffende regering gekenmerk deur harde werk en aanstellings op grond van meriete.

‘n VF Plus-regering sal veel kleiner wees. In ooreenstemming met internasionale beste praktyk, sal die kabinet van die huidige portefeuljes na 16 ingekort word, elk met slegs een minister en hoogstens een adjunkminister aan die hoof daarvan.

  • President
  • Adjunkpresident
  • Minister vir Finansies
  • Minister vir Binnelandse Sake
  • Minister vir Buitelandse Sake
  • Minister vir Verdediging
  • Minister vir Gesondheid
  • Minister vir Arbeid
  • Minister vir Landbou, Bosbou en Visserye
  • Minister vir Onderwys, Kuns en Kultuur
  • Minister vir Handel, Nywerheid en Toerisme
  • Minister vir Justisie en Korrektiewe Dienste
  • Minister vir Polisie
  • Minister vir Gemeenskapsontwikkeling en Grondsake
  • Minister vir Water, Sanitasie, Menslike Nedersettings en Omgewingsake
  • Minister vir Vervoer, Openbare Dienste en Administrasie
  • Minister vir Telekommunikasie, Wetenskap en Tegnologie
  • Minister vir Energie en Minerale Hulpbronne

Elke kabinetslid sal ‘n kundige op die terrein wees.

Die ministeriële handboek moet hersien word, om kostes wat met ministers en adjunkministers gepaardgaan te beperk.

Die besparing moet tot op die laagste vlak deurgevoer word. Die huidige situasie, dat die staatsdiens die grootste werkgewer in die land is en werknemers boonop beter as die privaat sektor vergoed word, is onvolhoubaar. Uiteindelik kan die staatskas dit nie dra nie en dit bring die fiskale afgrond nader.


Gesag op die laagste moontlike vlak

’n Federale kenmerk van die Suid-Afrikaanse Grondwet is die provinsies. Min daarvan realiseer egter, omdat die toon vir ANC-provinsies in Luthuli-huis aangegee word en nie in die provinsie self nie. ’n Provinsie waar opposisiepartye regeer, ervaar dat nasionale departemente hulle jurisdiksie daar oorskry.

Die VF Plus glo aan die beginsel van subsidiariteit. Dit beteken dat alle gesag op die laagste moontlike vlak uitgeoefen word. Provinsies doen slegs wat munisipaliteite nié kan doen nie en nasionale regerings slegs wat provinsies nie kan doen nie. Dit bevorder deelname en gee ryker inhoud aan demokrasie.

Dienslewering moet op plaaslike en provinsiale vlak plaasvind, terwyl die staat slegs minimumstandaarde stel en werksaamhede ko-ordineer.

Swak regering en binnegevegte, kenmerkend van ANC-beheerde provinsiale regerings, moet uitgeroei word. VF Plus verteenwoordigers in elke provinsiale wetgewer sal hulle beywer om óf in ’n koalisie die ANC tot ’n val te bring, óf ’n valkoog daaroor te hou.

Die sleutelpunt van die VF Plus se beleid is om Suid-Afrika as territoriale staat te omvorm tot ‘n staat waarvan gemeenskappe die grondliggende eenheid is en die staat slegs as ‘n gemenebes van gemeenskappe optree. Daarvoor moet republikeinse denke herontdek word.

Die demokratiese republiek kan nie ‘n groot staat wees waar openbare deelname slegs uit verkiesings bestaan nie. Die samestelling van die republiek moet ‘n burgery met gedeelde waardes moontlik maak, wat sinvol oor die gemeenskaplike besit, die gemenebes, kan regeer.

Terwyl besluite op die laagste moontlike vlak geneem word, vervul hoër regeringsvlakke die rol van korreksie – dit is dus moontlik om oor ‘n besluit na die volgende vlak te appelleer indien ‘n burger voel dat nie alle faktore in ag geneem is nie.

Hersien plaaslike regering

Dit beteken dat die stelsel van plaaslike regering hersien moet word. Die basiese regeringsvlak moet die plaaslike gemeenskap wees.

Die grootste mislukking van die ANC-regering is die stand van munisipaliteite. Dienslewering faal en meeste munisipaliteite is feitlik bankrot en onvolhoubaar.

Dorpe is saamgevoeg om groot munisipaliteite of metrorade te vorm, maar al wat verbeter het, is die vergoeding van raadslede en top amptenare.

Die VF Plus se ondersteuning van subsidiariteit kan moeilik verwesenlik word solank munisipale rade die mees onbekwame vlak van regering is. Die probleem is nie te veel mag op die plaaslike vlak nie, maar te min.

Munisipale gebiede is so groot, dat dit nie meer regering op voetsoolvlak is nie. Boonop gebruik die ANC munisipaliteite as ’n kanaal vir die ontplooiing van kaders.

Plaaslike munisipaliteite moet slegs een dorp omvat. Daar is geen getuienis dat die stelsel van kanttot-wal munisipaliteite sedert 2001 voordelig is nie, behalwe vir die klein elite van raadslede en amptenare.

Gemeenskappe

Gemeenskappe kan meer plaaslik en meer “tuistelik” raak – ‘n begrip wat verwys na ‘n ryk gemeenskapslewe waar burgerlike deelname veel dieper as periodieke verkiesings strek; waar gemeenskapslede direk aan regeringsaktiwiteite deelneem.

Hierdie soort gemeenskap, die tuistelike gemeenskap, sal daardeur versterk word dat byvoorbeeld energievoorsiening plaaslik onderneem kan word en aan die gemeenskap self kan behoort. Dit kan ekonomiese aktiwiteite stimuleer wat plaaslike welvaartskepping in die oog het, eerder as winste vir wêreldwye korporasies.

Sover dit selfbeskikking betref, streef die VF Plus na outonomie wat vir ‘n kultuurgemeenskap regoor die land geld, oor onderwys, bejaardesorg, sport, erfenisbewaring en ander soortgelyke sake.

Gemeenskapsrade, byvoorbeeld ‘n Afrikanerraad, moet tot stand kom vir gemeenskappe wat regoor die land versprei is.

So ‘n raad moet beheer oor onderwys, erfenisbewaring en maatskaplike sorg van daardie gemeenskap uitoefen. Wêreldwyd word dit beskou as die basiese aspekte waaroor nasionale minderhede self kan beskik. Daar moet ‘n wetlike raamwerk vir doelgestigte gemeenskappe geskep word.

In praktyk sal dit beteken dat die beheerraad van elke skool, maatskaplike instelling (byvoorbeeld ouetehuis of kinderhuis) en erfenisinstelling (byvoorbeeld museum of erfenisterrein) besluit of dit onder die bestaande owerheid of onder die gemeenskapsraad wil ressorteer.

Hierdie is nie ’n rasseverdeling nie. ’n Tradisionele Afrikanerskool mag dalk glad nie belangstel om onder die Afrikanerraad te staan nie, maar ’n tradisionele bruin skool wel. Dit is elkeen se keuse.

Hierdie raad sal dit dus vir Afrikaners, waar hulle ook al woon, moontlik maak om hulle kultuurregte uit te oefen.

Op dié manier kan ‘n republikeinse regering mettertyd weer gevestig word, ten koste van die huidige tirannie van die meerderheid.

Selfbeskikking

Ons benodig dringend 'n nuwe staatkundige bestel waarin erkenning gegee word aan die diversiteit van Suid-Afrika as die ware boublokke van 'n ware eenheid in diversiteit. 'n Bestel gebou op respek vir mekaar, sonder diskriminasie en rassisme, met gelyke geleenthede, maar met erkenning van elkeen se eie, sowel as die gemeenskaplike. Dus ’n bestel waarin die korrekte vorme van selfbeskikking toegepas word.

Soos elders in die wêreld bewys, is hierdie benadering nie in konflik met 'n grondwetlike- of ’n liberale demokrasie nie. Inteendeel, dit word as die nuutste en modernste staatkundige tendense beskryf.

Federalisme, lokaliteit, subsidiariteit en selfbeskikking, soos dit internasionaal voorkom, is noodsaaklike boustene van so ’n staatkundige model. Grondgebonde outonomie soos oor provinsies moet uitgebrei word.

 

Beleid wat oplossings bied

Staatsbesteding, belasting en die ekonomie

Suid-Afrika beleef tans ʼn ongekende ekonomiese krisis vanweë die wanbestuur en vergrype van die ANC-regering.

As gevolg van beperkte werksgeleenthede en min ekonomiese groei is daar ‘n klein belastingbasis en groot maatskaplike besteding. Dit en die staat se buitensporige salarisrekening bring enorme staatskuld en gepaardgaande rente op die skuld tot gevolg wat die fiskale afgrond al hoe nader bring.

Die fiskale dilemma is dat almal so min as moontlik belasting wil betaal, maar soveel as moontlik staatsbesteding wil geniet.

Dié teenstellende behoeftes beweeg regerings om meer uit te gee as wat dit invorder; en die verskil op die kapitaalmark te gaan leen. So bou staatskuld op, wat uiteindelik die hele begroting kan opslurp.

Sover dit invordering van belastings aangaan, het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) by wyse van spreke by die dood omgedraai. VF Plus-beleid van aanstellings op grond van meriete sal herhalings daarvan help voorkom.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat slegs die vryemark ekonomiese waarde volledig kan ontsluit, skep, bevorder en beskerm. Die hoeksteen van die vryemark is privaat eiendomsreg waarsonder daar geen aanmoediging sal bestaan om handel te dryf nie.

Staatsbesteding moet verminder word deur:

  • alle staatsondernemings te privatiseer deur middel van ʼn mengsel van gedeeltelike verkoping en volle verkoping. Die SAL en Eskom is eerste op die lys vir privatisering;
  • staatsdiens-aanstellings slegs op grond van meriete te laat geskied;
  • salarisskale van senior bestuursposte te hersien;
  • prestasiebonusse aan staatsamptenare te beperk;
  • salarisverhogings tot nie hoër as inflasie te beperk;
  • korrupsie uit te roei; en
  • die staatsdiens te verklein en ministeries te verminder.

Die regering mag nie meer bestee as wat hy inkry deur belasting nie. Dit sal die regering dwing om eerder beleid te implementeer wat die ekonomie sal laat groei. Indien daar egter enige tekorte in die begroting is, kan dit hoogstens deur skuld aangevul word indien die tekort en kapitaalbesteding ten minste dieselfde is.

Persoonlike en maatskappybelasting moet verlaag word ten einde belegging in die ekonomie te stimuleer en werk te skep.

Die VF Plus sal ’n fiskale kommissie tot stand bring, wat soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal werk. ’n Bogrens vir staatsbesteding sal geformuleer word. Wanneer dit bereik word, sal die fiskale kommissie die bevoegdheid hê om BTW te verhoog. Wanneer die gevaar afneem, kan dié koers weer verlaag word.

Dit is nie asof enigeen hoër belastings begeer nie, maar soos rentekoerse private besteding aan bande lê of stimuleer, kan BTW dieselfde vir staatsbesteding doen.

BTW moet eerder as billike instrument gebruik word om begrotingstekorte aan te vul. BTW verbreed die belastingbasis en BTW is juis billik omdat almal meer sal betaal, maar aan die ander kant van die maatskaplike spektrum sal fondse beskikbaar gestel word om ook beter in maatskaplike behoeftes te voorsien.

Die brandstofheffing moet aansienlik verminder word en mag slegs vir pad- en vervoerinfrastruktuurontwikkeling aangewend word. Die padongelukfonds moet afgeskaf word. Elke motoreienaar moet eerder deur wetgewing verplig wees om derdeparty-versekeringspolisse uit te neem.

Ander tariewe en heffings moet ook afwaarts aangepas word om besteding en sodoende die ekonomie te stimuleer.

So-ook die omstrede e-tolstelsel in Gauteng. Volgens die VF Plus is die e-tolstelsel uit die staanspoor gekenmerk deur swak ooreenkomste wat groot bedrae onnodig aan oorsese diensverskaffers betaal het. Hoewel die paaie die ekonomie bevorder, demp die e-tolstelsel dit weer. Die VF Plus dring daarop aan dat hierdie stelsel geskrap word.

Invordering van belasting sal waarskynlik in die toekoms deur die groei in private geldeenhede (soms “kriptogeld” genoem) ondermyn word. Die staat sal dus sy geld moet verdien, pleks van opeis.

  • Beperk staatsbesteding.
  • Privatiseer staatsentiteite, soos die SAL.
  • Bring belastingverligting vir persone en besighede.
  • Bring ‘n fiskale kommissie tot stand wat onder meer die BTW-koers aanpas.
  • Stel kundiges by die Inkomstediens aan.
  • Skaf die padongeluksfonds af en vervang met wetgewing wat derdeparty-versekering vir alle motoreienaars verplig.
  • Verlaag brandstofheffing en wend dit slegs vir pad- en vervoerinfrastruktuur aan.
  • Skrap e-tol.
  • Die regering moet belasting verdien; nie opeis nie.


Ekonomiese bemagtiging, maatskaplike ontwikkeling en armoede-bekamping

Die beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het gelei tot swart elite bemagtiging waardeur welvaart eerder rondgeskuif, as geskep is. Die VF Plus is van mening dat welvaart nie geskep kan word deur welvaart te verdeel nie.

SEB het tot gevolg dat bates bloot uitgedeel word aan spesifieke swart individue, in plaas daarvan dat entrepreneurskap en gemeenskapsopheffing aangewakker word.

Ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika behoort nie te fokus op die verryking van enkele individue nie, maar eerder op die werklike bemagtiging van hele gemeenskappe.

Aangesien die VF Plus glo dat velkleur nie gebruik kan word as ‘n veralgemeende aanduiding van minderbevoorregting nie moet dit nie as ‘n voorwaarde vir bemagtiging geld nie. Sosio-ekonomiese omstandighede, soos armoede, werkloosheid en ‘n gebrek aan toegang tot gehalte onderwys moet eerder as die grondslag vir bemagtiging gebruik word.

Groei en ontwikkeling is die enigste volhoubare bemagtigingsmetode.

Armoede is ’n nasionale probleem wat ’n baie groot gedeelte van die samelewing vanuit alle gemeenskappe raak. Armoede-bekamping in gemeenskapsverband is deur die jare beproef as die mees effektiewe vorm van armoedeverligting. Daarom sal die VF Plus hom daarvoor beywer om gemeenskapsgebaseerde, maatskaplike diens te bevorder. Die party verwerp die toepassing van rassekwotas (eerder ’n middeletoets) in die toewysing van staatsbefondsing aan maatskaplike diensorganisasies. 

  • Die ontwikkeling van selfstandige, plaaslike ekonomieë.
  • Armoede as grondslag vir bemagtiging.
  • Die aanwending van groei en ontwikkeling eerder as rasteikens as bemagtigingsmetode.
  • Spesiale ekonomiese sones wat vrygestel is van regstellende-, bemagtigings- en beperkende arbeidswette.
  • Gemeenskapsgebaseerde, maatskaplike diens.


Vroue- en kinderregte en mense met gestremdhede

Die VF Plus ondersteun vroueregte, maar weet dat dit in die praktyk slegs verwesenlik kan word deur die bemagtiging van vroue deur opleiding en die skep van geleenthede. Daarvoor sal die VF Plus hom beywer.

Meeste slagoffers van verkragting, molestering en huishoudelike geweld is weens intimidasie te bang om hierdie voorvalle by die polisie aan te meld.

In baie gevalle skiet die polisie se hantering van hierdie sake ver tekort en word slagoffers nie beskerm nie.

Die strafregstelsel laat ook baie slagoffers in die steek veral met betrekking tot die wyse waarop daar van slagoffers verwag word om in ‘n oop hof te getuig. As gevolg van swak hantering van sake, leemtes in die oordrag van dossiere tussen die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag, die onvolledigheid van ondersoeke, die integriteit van bewysstukke en getuienis wat nie behoorlik en met die nodige sorg hanteer word nie, is vervolging in hierdie sake dikwels onsuksesvol.

Hierdie tekorte in die stelsel lei tot die lae aanmeldingsyfer van hierdie misdrywe en daarom is baie seksuele oortreders op vrye voete en vind geslagsgeweld endemies plaas.

Die VF Plus ondersteun maatreëls wat daarop gemik is om vroue en kinders as kwesbare landsburgers te beskerm teen misbruik en mishandeling.

Ontoereikende finansiering van nie-winsgewende organisasies soos kinderhuise en tehuise vir gestremdes is ‘n skending van die weerloosste mense in ons samelewing se basiese menseregte.

Veral staatsubsidies aan kinderhuise is ontoereikend. In sommige provinsies is hierdie subsidie slegs R17 per kind per dag. Aangesien hierdie kinderhuise sorg vir hawelose kinders wat deur die hof in die sorg van die staat geplaas is, is dit onaanvaarbaar dat baie van hierdie kinderhuise op die drempel van sluiting is.

Mense met gestremdhede moet bemagtig word met toepaslike opleiding en hul regte moet beskerm word. Blinde en dowe persone se toegang tot onderwys en kommunikasie met staatsinstellings in braille en gebaretaal moet prioriteit geniet.

  • Werklike gelyke geleenthede moet bevorder word en nie ‘n kunsmatige stelsel van bemagtiging nie.
  • Maatreëls moet in plek gestel word om die aanmelding van geslagsgeweld aan te moedig en slagoffers te beskerm.
  • Polisiëring en vervolging ten opsigte van geweld teen vroue en kinders moet geprioritiseer word.
  • Staatsubsidies aan nie-winsgewende organisasies soos kinderhuise en tehuise vir gestremdes en bejaardes moet verhoog word.


Werkskepping

Onbuigsame arbeidswetgewing is een van die grootste hindernisse in die pad van ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika. Nie alleen is dit moeilik om onbekwame werksmense uit diens te stel nie, daar moet ook voortdurend aan transformasieteikens voldoen word.

Die VF Plus sal transformasieteikens en Swart Ekonomiese Bemagtiging uit die regeringsbeleid verwyder. Dit sal die private sektor aanmoedig om die beste moontlike personeel aan te stel, sodat ekonomiese groei bevorder word.

Die behoefte aan geskoolde arbeid wat in ‘n ope mark gevind moet word, is die beste meganisme om alle landsburgers in die volle sin van die woord met kundigheid, vaardighede en werksetiek te bemagtig.

Werkloosheid moet daadwerklik aangespreek word. Geen regering kan werk volhoubaar skep nie. Daarom is die VF Plus oortuig dat werkloosheid slegs oorkom kan word as regeringsbeleid verander word om 'n gunstige omgewing vir werkskepping en beleggings te bewerkstellig.

Werk kan ook nie deur wetgewing geskep word nie. Wetgewing wat poog om meer werkloosheid te beperk, sal lei tot verdere oorregulering wat ongunstig is vir volhoubare werkskepping.

Die VF Plus het 'n vyfpuntplan om werkloosheid en veral jeugwerkloosheid te bekamp: 
 
1. Arbeidswetgewing moet aangepas word om werkskepping te bevorder terwyl billike arbeidspraktyke steeds in stand gehou moet word.

2. Stakings en spesifiek onwettige stakings wat tot die verlies van honderdduisende werkgeleenthede lei, moet daadwerklik beperk en verbied word. Vakbonde se mag moet ingeperk word en hul onverantwoordelike optrede wat tot werkverlies lei, moet deur kragtige wetgewing verhinder word. 

3. Rasgegronde regstellende aksie en onbillike SEB moet opgeskort word. Hierdie beleide het alle Suid-Afrikaners, maar veral die jeug, gefaal. Slegs 'n klein elite trek voordeel terwyl armoede en werkloosheid steeds hoogty vier. 

4. Die VF Plus is ten gunste van ’n jeugloonsubsidie wat, indien dit korrek en billik geïmplementeer word, daadwerklik hierdie uitdagings kan behandel. Die VF Plus stel daarom die volgende voorwaardes ten opsigte van die implementering hiervan: 

  • Die subsidie moet nie aan regstellende aksie en SEB-maatreëls onderwerp word nie. Werkloosheid strek oor rassegrense heen. 
  • Daar moet ’n balans tussen die fondse vir hierdie subsidies en fondse vir beurse en opleiding wees.
  • Die jeugsubsidie moet ook voorsiening maak vir die bevordering van indiensopleiding
  • Die afdanking van ouer, ervare werkers, moet daadwerklik verhinder word.

5. Onderwys en opleiding moet die jeug vir werk voorberei. Tans is meer as 80% van skoliere wat die skool verlaat, nie vir die werkplek opgelei of voorberei nie. Opleidingsinstellings wat vaklui oplei, moet toeganklik en toegerus wees om die jeug toe te rus om die werkplek te betree en moet ook 'n entrepreneursklimaat skep.


Hierdie beleid is daarop gemik om die Suid-Afrikaanse bevolking te omskep van een wat van welsynstoelae afhanklik is, tot een wat die land se dryfkrag vir ekonomiese groei is.

Ons land, asook die hele Afrika-kontinent, beskik oor ’n demografiese dividend in die volgende paar jaar weens ons jong bevolking wat aangewend kan word om grootskaalse groei te bewerkstellig. Kom ons wend al ons jongmense aan om dit te verseker - kom ons los rasse-diskriminasie vir altyd in die verlede en fokus op die toekoms deur ontwikkeling.

 

Onderwys

Gehalte-onderwys hang van ’n nuwe onderwyskultuur af. ’n Kultuur van harde werk, stygende standaarde en eerlikheid is nodig. Verder beskou die VF Plus werksetiek by onderwysers en dosente as van allergrootste belang. Vakbonde met ’n afbrekende tradisie moet onder beheer gebring word.

Vakbonde in die basiese onderwysomgewing vir onderwysers moet vervang word met ʼn konsiliasie- en arbitrasiestelsel ten einde massa-stakings en ongedissiplineerde onderwysers aan te spreek, veral in minder gegoede skole waar leerders die meeste aandag nodig het.

Skole moet plekke van veiligheid wees. Die VF Plus is daarvan oortuig dat alle vorme van protesaksies en betogings in die onmiddellike omgewings van skole verbode moet wees.

Onderwysers wat bereid is om in minder gegoede skole te werk, moet hoër besoldiging ontvang en prestasie-bonusse moet vir alle onderwysers beskikbaar gestel word met hoër bonusse vir onderwysers in minder gegoede skole.

Die VF Plus stel ‘n stelsel van ouer en gemeenskapsgedrewe moedertaal onderwys voor. Gemeenskappe moet in staat gestel word om met owerheidbystand gemeenskapskole te vestig.

Volgens die onderwysbegroting moet die begrote koste per leerder aan die skool van die ouers se keuse betaal word. Dit kan by wyse van ‘n sisteem geadministreer word waar onderwyskoepons aan ouers uitgereik word om dit by die skool van hul keuse in te dien. In so ‘n stelsel word leerders en nie skole gesubsideer nie en het ouers die keuse van openbare staatskole, meer onafhanklike gemeenskapskole of tuisonderrig.

Gemeenskapsrade wat hulle vermoë daartoe kan aantoon, moet die reg kry om as onderwysdepartement oor provinsiale grense heen op te tree.

Elke skool moet die reg uitoefen om onder die provinsiale onderwysdepartement of dié van ‘n gemeenskapsraad te staan. Elke skool moet ook die reg uitoefen om die departement van onderwys se assessering te volg, of dié van enige van die twee onafhanklike assesseringsliggame wat in SuidAfrika geregistreer is.

Ouers wat verkies om tuisonderrig aan hulle kinders te verskaf, moet toegelaat word om dit te doen, mits hulle kan bewys dat hulle die nodige kennis, vaardigheid en hulpmiddels het. Eksterne eksamens aan die einde van graad nege en graad 12 kan die gehalte van tuisskoling kontroleer.

Die afskeep van moedertaalonderrig dra by tot swak prestasie en die hoë uitvalsyfer. Die feit dat Afrikaans- en Engelssprekende leerders in hulle moedertaal onderwys ontvang, verklaar waarskynlik waarom ‘n groter persentasie van hulle graad eens op skool bly tot in graad 12. Selfs op tersiêre vlak hou moedertaalonderrig meetbare voordele in. Die basis van die VF Plus se onderwysbeleid is daarom dat moedertaalonderrig vir elkeen beskikbaar moet wees – hoewel dit natuurlik op niemand afgedwing moet word nie.

Vroeë kinderontwikkeling is uiters belangrik en moet ‘n funksie van die departement van onderwys en nie van maatskaplike ontwikkeling wees nie. Tans is Suid-Afrika se besteding aan hierdie fase van onderrig van die laagste in die wêreld. Die belangrikste vormingsjare van kinders is tussen die ouderdomme van 0 tot 4 jaar wanneer ‘n kind se brein die vinnigste ontwikkel. Indien hierdie vormingsjare nie behoorlik benut word nie, sal kinders nie die mas later in hul skoolloopbane kan opkom nie. Gehalte, vroeë kinderontwikkelingsonderrig sal leerders se skoolprestasie verbeter en die swak deurvloeisyfer aanspreek.

Beurse vir presterende leerders moet op grond van meriete en finansiële behoefte in samewerking met verskeie privaatbedrywe beskikbaar gestel word op voorwaarde dat hulle vir elke studiejaar ‘n jaar terugwerk. 

  • Moedertaal onderwys tot op die hoogste moontlike vlak.
  • Subsidieer van kinders eerder as skole.
  • Prioritiseer vroeë kinderontwikkeling.
  • Gemeenskapskole met owerheidbystand.
  • ‘n Hoë standaard van onderwys om internasionaal te kan meeding.
  • Verbied alle vorme van betogings en protesaksies naby skole.


Taalregte en veeltaligheid

Die VF Plus beskou elke taal as oneindig meer as ’n blote kommunikasiemiddel. ’n Taal is soos ’n tuiste. Elkeen wat van sy/haar moedertaal ontneem word, word as’t ware tuisteloos gelaat, sy/haar menswaardigheid word aangetas en die persoon word aan disoriëntasie uitgelewer.

Die verwatering van ons amptelike tale (buiten Engels) se owerheidsfunksies benadeel rasseverhoudings en oortree die Grondwet.

Daarom staan die VF Plus vir die erkenning en ontwikkeling van al Suid-Afrika se inheemse tale. Dit is ’n mite dat ’n taal voortbestaan bloot deur gepraat te word. Die werklikheid is dat daar daagliks tale, wat nie oor die mag en middele beskik om hulle teen dominante tale te handhaaf nie, tot niet gaan.

Die behoud en uitbou van Suid-Afrika se 11 amptelike tale se hoër funksies moet prioriteit geniet. Derhalwe moet die mediums van onderrig, byvoorbeeld, eerder uitgebrei word om meer tale in te sluit as om weg te neem en te verengels. Onderwyskundiges wêreldwyd is dit eens dat moedertaalonderrig akademiese prestasie bevorder.

Tans is daar ‘n aktiewe aanslag teen Afrikaans as ‘n medium van onderrig.

Afrikaans is een van die enigste tale wat gedurende die twintigste eeu deur die hele proses van modernisering gegaan het en kan dus waardevolle steun en leiding gee aan ander taalgemeenskappe wat dieselfde wil vermag. Die oorlewing van Afrikaans maak die pad oop vir die oorlewing van ander inheemse tale.

Die VF Plus verwerp die kruipende taalimperialisme van Anglofiele wat veral deur middel van onderwys, maar ook openbare instellings en staatsdepartemente en in die naam van globale handel en verkeer, inheemse tale aan Engels wil onderwerp. 

  • Meer skole en universiteite moet gebou word en ander maatreëls in plek gestel word om uitvoering aan die Grondwet se bepaling te gee, wat lui dat elkeen die reg het om in die amptelike taal van sy of haar keuse onderrig te ontvang.
  • Taalregte moet in wetgewing duidelik geformuleer word, want die interpretasie van vae bepalings lei tot die skending van grondwetlike regte wat dan slegs simbolies is.


Landbou

Die voortbestaan van landbou in Suid-Afrika word bedreig deur ‘n onbetroubare klimaat; stygende insetkoste; gebrekkige staatshulp in die vorm van navorsing, rampverligting en oordeelkundige tariefbeskerming; teikengerigte plaasaanvalle met oormatige wreedheid en die beleidsrigting van onteiening sonder vergoeding.

Die VF Plus se beleid is dat benutting van biologiese hulpbronne in samehang met die wêreld soos dit tans ontvou, benader moet word. Die kulturele waarde van grond, woude en visvelde vir kultuurgroepe (insluitend Afrikaners) moet erken word. Terselfdertyd moet die noodsaak van voedselsekuriteit en kommersiële landbou se rol daarin erken word. Tariefbeskerming, navorsing, rampverligting en infrastruktuurskepping moet al hierdie groepe bevoordeel.

Die VF Plus ondersteun groter staatsbesteding aan landbounavorsing om te verseker dat instansies soos die Landbounavorsingsraad en die Waternavorsingskommissie Suid-Afrika op die voorpunt van navorsing met betrekking tot skaars hulpbronne kan plaas.

Landbou as primêre bedryf in die ekonomie is ’n wesenlike rolspeler as werkskepper, voedselprodusent en inkomstevermenigvuldiger in die ekonomie en behoort daarom deur die regering gekoester te word.

Landbou behoort beskerm te word teen tarief- en subsidiebevoordeling deur internasionale rolspelers en die storting van substandaard ingevoerde landbouprodukte.

Rampverligting, soos droogtehulp moet effektief bestuur word en moet aangewend word om alle voedselprodusente in tye van natuurrampe by te staan. Die Landbank moet in tye van finansiële nood as gevolg van hierdie rampe, rentevrye korttermynlenings aan produsente toestaan.

Die VF Plus dring daarop aan dat ’n sosiale, ekonomiese en politieke omgewing geskep word, wat dit vir kommersiële boere moontlik maak om voedselsekerheid te verseker.

  • Tariefbeskerming, navorsing, rampverligting en infrastruktuurskepping tot voordeel van alle landbouers.


Grondsake

Die VF Plus begryp die emosionele impak wat grondbesit op alle Suid-Afrikaners het. Daarom moet grond nie net deur ’n kommersiële lens beskou word nie. Afrikaners wil ook die gemoedsrus hê dat ’n deel van die Afrika-bodem onvervreembaar aan hulle behoort.

Die VF Plus is gekant teen onteiening sonder vergoeding en is van mening dat daar genoeg grond vir herverdeling beskikbaar is, maar dat administratiewe gesloer vertragings veroorsaak wat tot nadeel van die land is.

Die VF Plus se standpunt is dat grond wat reeds verkry is deur grondhervorming en waarvan 90% van die projekte misluk het en ongebruikte staatsgrond dadelik aangewend kan word vir herverdeling en dat die beginsel van “vrywillige verkoper, vrywillige koper” daarna gevolg behoort te word. In die geval van onteiening in openbare belang moet dit met markverwante vergoeding gepaard gaan.

Die VF Plus is daarteen gekant dat onteieningsmagte by die Minister van Grondsake setel en glo dat sulke magte by ’n hoë hof hoort, aangesien hier ’n fundamentele, grondwetlike reg op die spel is.

Grondeise moet spoedig afgehandel word aangesien dit groot onsekerheid tot gevolg het wat ontwikkeling van die landbousektor demp.

Grond word as populistiese politieke wapen gebruik. Die mite dat grondbesit opsigself welvaart skep word deur die VF Plus verwerp.

Suid-Afrika kan nie bekostig dat vrugbare grond onproduktief raak nie. Die bevolking groei jaarliks, 70% daarvan sal binnekort verstedelik wees en benodig daagliks meer voedsel verstedelik sal wees, wat daagliks meer voedsel benodig. Voedselsekerheid is ’n hoeksteen van stabiliteit.

Grondhervormingsprojekte het ‘n teelaarde vir korrupsie geword. Die VF Plus is van mening dat grond wat op die bogenoemde wyses herverdeel word, aan begunstigdes oorgedra moet word. Die begunstigdes moet die titelaktes van die grond ontvang. Die staat se betrokkenheid by hierdie projekte moet geminimaliseer word en vennootskappe tussen opkomende boere en kommersiële boere moet eerder bewerkstellig word.

  • Wend ongebruikte staatsgrond aan vir grondhervorming.
  • Begunstigdes van grondhervorming moet die grond besit.
  • Privaateiendomsreg moet beskerm word.
  • Onteieningsmagte moet by ‘n hoë hof gesetel wees en onteiening mag slegs in openbare belang teen markverwante vergoeding geskied.
  • Beskerm produktiewe landbougrond.


Polisiëring

Misdaad bly ’n ernstige bedreiging vir almal. Daarom behoort die polisiediens deur professioneel opgeleide lede gelewer en gelei te word. Dit is tot nadeel van Suid-Afrika en al sy inwoners dat topposte in dié diens onder ANC-bewind politieke aanstellings van buite die polisie is. Dit is afbrekend as aanvaar moet word dat jong polisielede nooit die boonste sport sal bereik nie, ongeag bekwaamheid.

Die VF Plus eer polisielede wat hulle werk getrou en vreesloos doen, ongeag die swak omstandighede en vooruitsigte. Daarteenoor verwerp die party die gedrag van polisielede (meer dikwels ontplooide kaders) wat hulself as magshebbers en verhewe bo die reg beskou; wat hul amp vir persoonlike gewin misbruik; ook die brutaliteit wat dikwels daarmee gepaard gaan. Die party dring daarop aan dat die polisiediens toegelaat moet word om te dien en te beskerm, sonder politieke inmenging en binne behoorlike dissiplinêre norme.

Die polisie moet vir die handhawing van wet en orde op ‘n regverdige maar tog beslissende wyse verantwoordelik wees; om misdaad te voorkom; om regsverbrekers op te spoor en voor die reg te bring; om die gemeenskap te beskerm en te kalmeer indien ‘n verbreking van die regsorde plaasvind; en om in die uitvoering van bogenoemde voortdurend gesien te word as ‘n organisasie wat dit professioneel met integriteit, gesonde verstand en goeie oordeel kan doen.

Ondoeltreffende polisiëring lei daartoe dat landsburgers vir ’n basiese owerheidstaak self moet betaal. Steeds meer private veiligheidsdienste kom tot stand.

Geweldsmisdaad met behulp van onwettige vuurwapens vind daagliks plaas en eis jaarliks duisende onskuldige lewens. Beter polisiëring van onwettige wapens is nodig.

Die VF Plus staan egter onwrikbaar by die reg van bevoegde burgers om vuurwapens te besit en in gepaste gevalle ter beskerming van eie lewe eiendom dit te mag aanwend, gepaard met die plig tot deeglike opleiding.

Plaasmoorde bly ’n krisis waar die sterftesyfer aantoon dat dit tans gevaarliker is om ’n plaasboer te wees as ’n polisieman. Die landbougemeenskap word weerloos gelaat en die regering se landelike beveiligingsplan faal as gevolg van ‘n tekort aan menslike- en ander hulpbronne. Landelike beveiliging moet tot die voorkoming van plaasaanvalle en ander landelike misdaad, soos veediefstal spreek.

Die slagting van onskuldige kinders wat in bendes se kruisvuur beland, het skokkende vlakke bereik en die polisie kan nie langer net beloftes oor optrede maak terwyl bendegeweld voortduur nie. Dwelmsmokkelary as een van die lewensare van bendes moet daadwerklik aangespreek word. Daar is ‘n noodsaak vir goeie gekoördineerde samewerking tussen die polisie en die vervolgingsgesag om toe te sien dat arrestasies in verband met bendemisdrywe tot suksesvolle vervolging lei.

As gevolg van swak hantering van strafregsake, leemtes in die oordrag van dossiere tussen die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die onvolledigheid van ondersoeke, die integriteit van bewysstukke en getuienis wat nie behoorlik en met die nodige sorg hanteer word nie, is vervolging dikwels onsuksesvol.

Volgens die VF Plus moet daar gestreef word om die oorsake tot gebrek aan polisiëring op te los. Die oplossing kan gevind word binne die institusionalisering van doeltreffende polisiëring, met ander woorde die optimisering van alle huidige prosesse, funksies en hulpbronne tot die bereiking van die oorhoofse doel van polisiëring. Dit vereis nie meer en meer hulpbronne nie, maar wel die beter verspreiding en aanwending van hulpbronne met ‘n verbeterde uitset. 

  • Herstel die integriteit en funksionaliteit van die polisie deur van korrupte lede ontslae te raak; nie politieke aanstellings te maak nie en bevorderings op grond van kundigheid en ondervinding te laat geskied.
  • Private besteding aan veiligheid moet van belasting aftrekbaar wees.
  •  ‘n Effektiewe misdaadintelligensie-eenheid wat misdaad voorkom, sonder om die regte van burgers te verontagsaam.
  • Spesialiseenhede moet gestig word vir geweldsmisdaad en om die handel in onwettige vuurwapens aan te spreek.
  • Die reg van bevoegde burgers om vuurwapens te besit moet beskerm word.
  • Plaasaanvalle moet as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar word en genoeg hulpbronne moet aan landelike beveiling toegeken word.
  • Die polisie se landelike beveiligingsplan moet samewerking met en die bemagting van landelike beveiligingsnetwerke insluit.
  • Goeie gekoördineerde samewerking tussen die polisie, plaaslike owerhede, spesialiseenhede en die NVG is nodig om bendegeweld hok te slaan.
  • Dwelmhandel en smokkelary moet daadwerklik aangespreek word deur dwelms wat oor die grense van die land ingebring word, effektief te onderskep.
  • Ondersoekeenhede moet bemagtig word met kundigheid en daar moet sorg gegee word om te voorkom dat vervolging van misdadigers misluk weens die swak hantering van bewysstukke en getuienis.


Gesondheid

Suid-Afrika worstel tans met ‘n openbare gesondheidsektor wat tot in die kleinste nedersetting ‘n voetspoor het, maar deur swak voorsieningslyne en ‘n gebrek aan spesialiskennis gekenmerk word. Aan die ander kant is die private gesondheidsektor van wêreldstandaard, maar duur en ontoeganklik.

Die VF Plus is oortuig dat die struikelblok in openbare gesondheid nie gebrek aan geld is nie, maar gebrek aan kundigheid. Wanbestuur en korrupsie het openbare gesondheidsorginstellings vernietig.

Die obsessie met transformasie beteken dat kundigheid steeds uitgedryf word – sodanig dat duisende gesondheidslui uit Suid-Afrika in die buiteland werk.

Die VF Plus sal samewerking tussen die openbare – en private gesondheidsektore bewerkstellig, sodat kundigheid en fasiliteite gekombineer kan word. Die rigsnoer sal nie transformasie wees nie, maar goeie, toeganklike gesondheidsorg vir die land se inwoners. Goeie bestuurspraktyke moet by alle hospitale en klinieke geld. Persone met bestuursondervinding moet as hoofuitvoerende beamptes van hospitale aangestel word.

Die VF Plus veroordeel die oorregulering van die mediese fondsbedryf waardeur die fondse oormatig belas word en die netto belastinglas op individue vergroot word.

Die mediese fondsbedryf en privaat mediese diensbedryf is ’n noodsaaklike vennoot in die daarstelling van goeie gehalte gesondheidsdienste vir Suid-Afrika.

Die VF Plus sal hom beywer vir ’n nasionale vennootskap tussen privaat- en openbare mediese dienste waarin ruimte gelaat word vir albei om vry van onnodige beperkings te funksioneer, in belang van ’n gesonder bevolking.

Die openbare gesondheid-infrastruktuur moet eers opgegradeer word voordat enige vorm van ’n Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NGV) oorweeg kan word. NGV kan nie gebruik word vir hierdie opgradering nie. Op die korttermyn moet die beplande NGV onmiddellik gestaak word.

Die VF Plus is van oordeel dat die MIV/Vigs pandemie nie deur mediese ingrepe alleen nie, maar slegs deur ’n omvattende maatskaplike heroriëntering gestuit sal word. 

  • Staak die proses om ‘n NGV te implementeer.
  • Gradeer openbare gesondheid-infrastruktuur op.
  • Stel kundiges aan.
  • Staak die oorregulering van die mediese fondsbedryf.
  • Die daarstel van ‘n gunstige vennootskap tussen privaat- en openbare mediese dienste.


Buitelandse sake

Die VF Plus beywer hom vir die handhawing van billike menseregte nie alleen in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.

Die VF Plus dring daarop aan dat Suid-Afrika se buitelandse verhoudinge nie meer bepaal kan word deur wie die ANC voor 1994 getrou gesteun het nie. Indien daardie lande se eie rekord rakende menseregte beskou word, is dit duidelik dat hulle meer in invloed in Suid-Afrika belang gestel het, as in die demokratiese regte van Suid-Afrikaanse burgers.

Die ANC-regering se buitelandse verhoudinge toon ’n warboel van teenstrydighede. Die VF Plus eis duidelikheid en riglyne wat die regering self bereid is om te volg.

Afrika moet vanselfsprekend ‘n sentrale rol in Suid-Afrikaanse buitelandse beleid speel, maar nie tot die mate dat diplomatieke of militêre invloed gebruik word om regerings sonder meriete in stand te hou nie. Die buitelandse beleid moet Suid-Afrika se sentrale rol in Afrika bevestig.

Die VF Plus wil buitelandse verhoudinge bou op wedersydse respek, voorkeur vir lande wat selfbeskikking binne hulle eie grense bevorder en vir lande met wie Suid-Afrika sterk handelsbande het of kan hê.

’n Tweestaatoplossing word vir Israel en Palestina ondersteun. Dit is immers onlogies om selfbeskikking aan Palestyne te gun, maar nie aan Israeli’s nie.

Nuwe bondgenootskappe moet gevestig word sonder om reeds gevestigdes te vernietig.

  • ‘n Duidelike buitelandse verhoudinge beleid wat gegrond is op wedersydse respek en tot voordeel van Suid-Afrika strek.
  • Bevestig Suid-Afrika se sentrale rol in Afrika.
  • Ondersteun ‘n tweestaatoplossing vir Israel en Palestina.
  • Vestig nuwe handelsvennote sonder om reeds gevestigdes te vervreem.


Verdediging

‘n Verdedigingsmag se gehalte word bepaal deur sy toerusting en sy mense. In albei hierdie opsigte skiet Suid-Afrika tekort. Weens langdurige finansiële tekorte en verwaarlosing deur swak onderhoud, is die land se militêre mag aansienlik verswak. Selfs ernstiger is die gebrek aan bekwaamheid en dissipline in die magte. Al wat Suid-Afrika tans red, is die feit dat daar geen ooglopende en onmiddellike buitelandse bedreiging is nie.

Die VF Plus sal die moeisame taak om bekwaamheid na die militêre magte terug te lok, kombineer met die afdwing van sterk dissipline. Die doelwit is ‘n professionele weermag wat die wil en vermoë het om die land te verdedig. Binne die grense van fiskale vermoëns sal die heropbou van wapentuig en toerusting weer aangepak word. 

  • Vestig bekwame, gedissiplineerde militêre magte.
  • Heropbou van wapentuig en toerusting binne die grense van die fiskale vermoëns.


Grensbeheer en immigrasie

Die VF Plus dring aan op doeltreffende grensbeheer. Die integriteit van die land se grense moet herstel word. “Sagte” grense beteken dat mense die land binnestroom wanneer ekonomiese druk elders in Afrika toeneem. Dit beteken ook dat binnelandse goedere soos renosterhorings; en buitelandse goedere soos vuurwapens en dwelms, deur die grense beweeg. Dit maak dit ook makliker vir gewetenlose handelaars om tariewe wat ingestel is om die plaaslike ekonomie te beskerm, te omseil.

Immigrasie is ‘n natuurlike proses wat elke land poog om tot sy voordeel te bestuur. Dit beteken dat immigrante oor kennis en vaardighede moet beskik, wat in die ontvangerland skaars is. Weens swak grensbeheer wat ook korrupsie insluit is Suid-Afrika egter die ontvanger van groot getalle onwettige immigrante, sonder dat hulle potensiële bydrae beoordeel word. Hierdie onwettige immigrante plaas ook groot druk op waterbronne, gesondheidsorg, werklsgeleenthede en ander maatskaplike dienste tot nadeel van die belastingbetalers van Suid-Afrika. 

  • Doeltreffende grensbeheer waar die integriteit van die land se grense herstel word.
  • Sterk optrede teen korrupte amptenary.
  • Beweging van dwelms, renosterhorings en vuurwapens oor ons grense moet gestop word.
  • Onwettige immigrasie moet daadwerklik aangespreek word.
  • Volhoubare ontwikkeling en die omgewing

Omgewingsverandering vind onteenseglik plaas en die toename in intensiteit van droogtes en vloede is tot Suid-Afrika se nadeel.

Wat die oorsaak ook al is, die oplossing is om nie net minder koolstof vry te stel nie, maar hernude binding daarvan te bewerkstellig. Hier speel die VF Plus se beleid oor energie ’n sentrale rol.

Die land moet wegbeweeg van omgewingsvernietigende energiebronne soos steenkool.

Die oes, berging en verspreiding van hernubare-energie moet beklemtoon word. Onderontwikkelde dele van die land, veral in die Noord- en Wes-Kaap is goed geleë om ’n energierewolusie te beleef.

Dit behels nie net toenemende vervanging van steenkoolkragstasies met hernubare-energie nie, maar ook petrol- en dieselaangedrewe vervoer met elektriese vervoer. Onder die VF Plus sal Suid-Afrika aan die voorpunt hiervan wees.

Daar moet belastingkortings geld vir huishoudings en sakeondernemings wat na alternatiewe energiebronne, soos sonpanele omskakel.

Die omgewing moet verder beskerm word deur die effektiewe polisiëring met betrekking tot besoedeling en die oortreding van toepaslike wetgewing. Die wetstoepassers (Groenskerpioene) moet behoorlik bemagtig word om hierdie funksie te verrig.

Tans is die regering self vir die mees drastiese besoedeling van ons waterbronne verantwoordelik waar rioolaanlegte nie funksioneel bestuur word nie. Suid-Afrika verloor ook miljarde liters water as gevolg van waterinfrastruktuur wat nie instandgehou word nie.

Hierdie infrastruktuur moet as prioriteit opgradeer word en gereelde instandhouding moet plaasvind.

Waar ‘n vlak van die regering verantwoordelik is vir besoedeling of wetgewing oortree, moet die betrokke rekenpligtige amptenaar strafregtelik vervolg word.

  • Prioritiseer die gebruik van hernubare-energie.
  • Belastingkortings vir persone en sakeondernemings wat oorskakel na alternatiewe energiebronne
  • Benut onderontwikkelde gebiede, soos in die Noord-Kaap en Wes-Kaap om hernu-bareenergie te oes.
  • Versterk die Groenskerpioene.

 

Samevatting

Kernsamevatting van oplossings

Die VF Plus se Manifes en beleidsraamwerk bied die volgende oplossings vir Suid-Afrika se kernprobleme:

  1. Skaf rasgegronde regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging af; gebruik sosioekonomiese omstandighede as die voorwaarde vir bemagtiging en bevorder gelyke geleenthede vir almal.
  2. Verwesenlik die internasionaal erkende en grondwetlike reg van gemeenskappe tot selfbeskikking.
  3. Vestig gemeenskapsrade.
  4. Skep ‘n plaaslike regeringstelsel wat kleiner en meer plaaslik is.
  5. Meer outonomie aan provinsies.
  6. Beperk staatsbesteding; privatiseer staatsentiteite; verhoog staatsinkomste deur groei te stimuleer; bring belastingverliging; en bring ‘n fiskale kommissie tot stand.
  7. Ontwikkel selfstandige, plaaslike ekonomieë waar armoede as grondslag vir bemagtiging dien met groei en ontwikkeling wat geag word as die volhoubare bemagtigingsmetode; en vestiging van spesiale ekonomiese sones.
  8. Spreek die gebreke in die strafregstelsel aan om die endemiese voorkoms van verkragting daadwerklik stop te sit.
  9. Pas beperkende arbeidswetgewing aan om werkskepping te bevorder terwyl billike arbeidspraktyke steeds instand gehou word; bevorder ‘n gunstige omgewing vir die privaat sektor om werk te skep en staak die onvolhoubare praktyk waar die staat self probeer werkskep.
  10. ‘n Hoë standaard van onderwys met toegang vir almal tot moedertaalonderrig tot op die hoogste moontlike vlak wat ouer en gemeenskapgedrewe is.
  11. Bevorder taalregte en veeltaligheid.
  12. Tariefbeskerming, navorsing, rampverligting en infrastruktuurskepping moet klein- en kommersiële boere bevoordeel.
  13. Beskerm privaateiendomsreg.
  14. ‘n Gehalte gesondheidsorgsektor waar kundigheid bo transformasie geprioritiseer word; die oorregulering van medieseskemas gestaak word; openbare gesondheid-infrastruktuur opgradeer word; en samewerking tussen die openbare – en private gesondheidsektore bewerkstellig word.
  15. Bou buitelandse verhoudinge op wedersydse respek en gee voorkeur aan lande met wie SuidAfrika sterk handelsbande het of kan hê.
  16. Doeltreffende grensbeheer waar die integriteit van die land se grense herstel word en beweging van onwettige goedere, soos vuurwapens en dwelms oor ons grense en onwettige immigrasie gestop word.
  17. Die land moet wegbeweeg van omgewingsvernietigende energiebronne; hernubare-energie prioritiseer; en belastingkortings moet geld vir huishoudings en sakeondernemings wat na alternatiewe energiebronne omskakel.

 

Vyf fokusareas

Die voorafgaande Manifes bied oplossings vir die vyf fokusareas van die VF Plus se verkiesingsveldtog.

1. Slaan terug teen onteiening sonder vergoeding

  • Staak die huidige proses om die grondwet te wysig om onteiening van eiendom sonder vergoeding moontlik te maak.
  • Beskerm almal se reg tot die privaatbesit van eiendom.
  • Beskerm in besonder die reg van landbouers.
  • Veg teen die mite dat wittes al die grond wat hul besit gesteel het.
  • Beveg die propaganda dat die besit van grond al die armoede en werkloosheid gaan aanspreek.

2. Slaan terug teen diskriminasie

  • Gelyke regte en geleenthede vir almal moet geld.
  • Skaf regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging af. Bemagtiging moet geskied op grond van sosio-ekonomiese omstandighede en nie op grond van velkleur nie.
  • Vervang die huidige beleidsrigting van herverdeling met die fokus op ekonomiese groei en ontwikkeling.
  • Versterk nasiebou deur die erkenning van groep-, taal- en kultuurregte. Daar moet gelyke regte vir minderhede geld.
  • Konsekwente optrede ten opsigte van haatspraak deur en teenoor alle rasse, gemeenskappe, ens.
  • Verwesenliking van gemeenskappe se grondwetlike en internasionaal erkende reg tot selfbeskikking.

3. Slaan terug teen misdaad

  • ‘n Regering wat ernstig is oor die veiligheid van sy burgers.
  • Slaan terug deur die integriteit en funksionaliteit van die polisie te herstel.
  • Spreek die effektiwiteit van die Nasionale Vervolgingsgesag aan.
  • Prioritiseer landelike beveiliging.

4. Slaan terug teen korrupsie, wanbesteding en buitensporige belastings en tariewe - Ontbloot en beveg alle vorme van korrupsie en wanbesteding.

  • Vervolg amptenare en politici betrokke by korrupsie en oortredings.
  • Beperk staatsbesteding.
  • Privatiseer staatsentiteite.
  • Verhoog staatsinkomste deur groei te stimuleer.
  • Beperk belasting- en tariefverhogings om sodoende ekonomiese groei te stimuleer. - Bring ‘n fiskale kommissie tot stand.

5. Slaan terug teen swak dienslewering

  • Skep ‘n plaaslike regeringstelsel wat kleiner en meer plaaslik funksioneer.
  • Stel staatsamptenare op grond van meriete aan en spreek die huidige kundigheidtekort in die staatsdiens aan.
  • Prioritiseer infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding.

 

Kom ons bou saam aan ‘n beter toekoms!

__________________________________________________________________________________

 

 


[1] ‘Misdaadstatistiek 2017/18’ Suid-Afrikaanse Polisie Diens


[2] ‘Global study on homicide 2015’ United Nations Office on Drugs and Crimes (UNOCD)


[3] ‘South Africa crime: Can the country be compared to a 'war zone'?’ BBC News 18 September 2018


[4] ‘SA has 'deficit' of 62 000 police officers – Sitole’ News24 11 September 2018


[5] ‘Farmers 4.5 times more at risk of being murdered – AfriForum’ Times Live 25 Oktober 2017


[6] ‘Trimming state fat and cutting investor red tape two ways to rescue SA’ Dennis Dyke (Nedbank) Business Day 19 Februarie 2019


[7] ‘The 2019 Budget Review’ National Treasury 21 Februarie 2019


[8] ‘A call for social re-engineering?’ The Thinker 2018


[9] ‘Quarterly Labour Force Survey’ StatsSA 30 Oktober 2018


[10] ‘Mike Schussler: The burden of truth’ Financial Mail 21 Februarie 2019


[11] ‘Gross Domestic Product (GDP), 2nd Quarter 2018’ StatsSA 4 September 2018


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!