VF Plus-repliek op pres. Zuma se 2016-staatsrede

2016-02-17
Dr Pieter Mulder

Speaker,

In Noord-Ierland vra hulle wat 'n brug en 'n verraaier in gemeen het? – en die antwoord. Albei gaan oor na die ander kant. Ons het iets van daardie emosies in gister se debatte gesien.

In Noord Ierland het hulle vir jare mekaar doodgemaak oor godsdiensverskille.

In België het taalverskille tot konflik gelei.

In Eritrea het etniese verskille tot ʼn 30 jaar burgeroorlog gelei.

In die Franse revolusie was dit ryk teen arm.

Amerika het gereeld rasse-onluste. Maleisië en Singapoer het spesiale maatreëls om rasse-spanning tussen Maleisiërs, Chinese en Indiërs te voorkom.

In die lande hierbo was een verskil tussen groepe genoeg vir konflik.

Suid-Afrika het al hierdie verskille in een land. Godsdiensverskille, taalverskille, etniese verskille, rykdomverskille, rasseverskille en talle ander.

Die geskiedenis leer dat een vuurhoutjie ʼn groot veldbrand in droë gras kan veroorsaak.

In ons geskiedenis het baie bloed gevloei in botsings tussen wit en swart, tussen wit en wit en tussen swart en swart.

Tans word die vuurhoutjies van rassisme orals in die droë gras gegooi.

Die probleem is dat meeste van die uitsprake veralgemeen.

Soos: “Alle wit mense is rassiste”; Of “Alle swart mense is misdadigers of korrup.”

ʼn Veralgemening is altyd verkeerd want alle mense is nie dieselfde nie.

As die ANC Lekgotla in ʼn verklaring sê: “the black majority … believes that their attempts at nation building are rejected by the white minority”. Is dit ʼn gevaarlike veralgemening wat opsweep en mense in kampe verdeel.

As die president sê al die probleme in hierdie land het by Van Riebeeck begin -- is dit ʼn rassistiese oorvereenvoudiging van ons ingewikkelde geskiedenis en ʼn veralgemening.

Dieselfde om te sê alle grond is gesteel. Die geskiedenis is net nie so eenvoudig nie.

Maar leiers moet die voorbeeld stel. Leiers aan alle kante. Leiers bepaal die trant van sulke debatte.

Wat sê die Vryheidsfront Plus?

Rassisme is ʼn baie ernstige saak wat onvoorwaardelik veroordeel moet word. Rassisme van swart kant of van wit kant dra die kiem om Suid-Afrika en alle verhoudinge te vernietig. Net so is veralgemening altyd ʼn fout.

Waartoe lei dit?

In Stellenbosch was daar ʼn koshuispartytjie met as tema die ruimte en sterre. Twee dames besluit om ruimtewesens voor te stel. Hulle verf hulle gesigte pers met blinkers oral oor hulle lyf. Dit lei tot ʼn rasse-uitbarsting op sosiale media; die dames word geskors en vir ʼn week lank deur die owerhede geboelie. Rassisme is die klag. Hoe belaglik.

Hier is ʼn foto van ʼn man in ʼn eetsaal by die Universiteit van Kaapstad. Op sy t-hemp staan “Kill all whites”. Dit is blykbaar nie rassisme nie; net vryheid van spraak.

Waarmee is ons besig? Die studente sal sê ons het die “plot” verloor. Persgesigte is rassisme en “Kill all whites” is debatvoering.

Hierdie man wil minister Derek Hanekom dood maak net omdat hy wit is en so ook vir my.

Gabonthone Rampa is ʼn 21-jarige student van Madidi in Noordwes. Hy het tien onderskeidings in sy eerste jaar gekry. Hy kan geen beurse kry om met sy studie voort te gaan nie en skuld die universiteit R33 000.

Toe Chris Johnson, ʼn sakeman van Vereeniging hiervan hoor, het hy R150 000 geskenk om vir Rampa en nog twee studente te laat verder studeer. Johnson is wit en ken glad nie vir Rampa nie.

“Kill all whites”, beteken ook sakeman Johnson moet doodgemaak word. Hoe gek en gevaarlik.

Ons sien ekstremiste ook in hierdie raad. Robert Kennedy het gesê:

“What is objectionable, what is dangerous about extremists is not that they are extreme, but that they are intolerant.”

Rasseverhoudinge in Suid-Afrika is nou slegter as enige tyd sedert 1994.

In ʼn toespraak in hierdie raad het president Mandela gesê dat die 1994 onderhandelinge geslaag het omdat: “there are good men and women to be found in all groups and from all sectors of society, and that in an open and free society those South Africans will come together to jointly and co-operatively realise the common good.” (10 Mei 2004)

Is dit nog moontlik?

In 1930 was daar ʼn depressie in Suid-Afrika en ʼn ekonomiese krisis. ʼn Regering van nasionale eenheid is gevorm om die land deur die krisis te kry.

In 1994 skryf die Grondwet voor dat Suid-Afrika ʼn regering van nasionale eenheid moet kry om stabiliteit vir die oorgang te kry.

Die verslegtende verhoudinge in Suid-Afrika en die huidige ekonomiese krisis is baie ernstig. As SA tot rommel (junk) status verklaar word, gaan dit miljarde rande meer kos as die Nene-krisis.

"Met een vinger kan jy nie 'n luis doodmaak nie,” is ʼn Swahili-gesegde.

Is dit nie tyd dat politieke leiers van alle groepe maar ook sakeleiers in Suid-Afrika saamgebring word in 'n regering van nasionale eenheid om SA deur hierdie krisis te kry nie?

Onthou as die Suid-Afrikaanse skip sink weens rassekonflik of ʼn ekonomiese ineenstorting, sink ons almal saam.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670