Lidverklaring in die parlement: Regering het geen begrip vir die krisis waarin SA-landbouers verkeer nie

2015-11-03
Dr Pieter Mulder

Die Suid-Afrikaanse landbousektor is in 'n baie ernstige krisis en dit blyk dat die regering geen begrip daarvoor het nie. Volgens koerantberigte is hulle ook nie van plan om enigsins te help nie.

Om suksesvol te boer het 'n landbouer basiese stowwe soos kunsmis, saad, trekkers en diesel nodig om net 'n paar te noem.

Ek het tyd vir net enkele syfers:

Oor die laaste paar jaar het kunsmis (ureum) se prys met 92% gestyg; saadpryse het met 88% gestyg; trekkerpryse (70kw-80kw) het met 105% gestyg en diesel met 86%. In dieselfde tyd het die mielieprys met slegs 28% gestyg. 'n Eenvoudige wins en verlies som toon aan hoekom soveel landbouers bankrot gaan of net ophou boer. In die Bothaville-distrik wat binne die mieliedriehoek val, is 46 plase tans te koop. Dit gee 'n indruk van die erns van die krisissituasie.

By hierdie finansiële krisis moet die huidige droogtetoestande gevoeg word. In meeste provinsies is dit vir die tweede jaar uiters droog. KwaZulu-Natal is reeds tot rampgebied verklaar en provinsies soos Limpopo, Noordwes, Vrystaat en Noord-Kaap is ook op pad daarheen.

As die regering nie betyds optree nie staar ons hongersnood vir sommige en abnormale hoë kospryse in die gesig. Ongeag al hierdie feite gaan die regering voort om met onverantwoordelike uitsprake die landbouers die sondebok te probeer maak vir talle probleme wat deur die ANC geskep is. Gaan maak 'n studie van rewolusies in ander lande en gaan ontdek in hoeveel gevalle daar 'n regstreekse korrelasie tussen hongersnood en opstande was.

In reaksie op die lidverklaring het die minister van landbou, Senzeni Zokwana, gesê die regering gaan in gesprek tree met die landbousektor en beoog wel om droogtehulp te verskaf.

Dr. Mulder het daarop gesê hy is skepties in die lig van vorige ervaring met die ANC-regering en die vraag is hoeveel van hierdie beloftes wel op grondvlak by die landbouers gaan uitkom.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670